Om te Help Sonder om te Skaad: Die Bybel en die ArmesVoorbeeld

Helping Without Hurting: The Bible and the Poor

DAG 4 VAN 10

Om Aandagtig te Kyk

"Petrus en Johannes kyk hom toe stip aan, en Petrus sê: 'Kyk na ons'(Handelinge 3:4).

Behoeftes. Niemand van ons is ver van iemand wat behoeftig is nie. Dit mag dalk wees dat jy by 'n verkeerslig gestop het en 'n man sien staan met 'n stuk karton waarop "Hulp Benodig" geskryf is. Jy het eers getwyfel, maar bedink jou toe, maak die venster op 'n skrefie oop, en stop 'n paar rand in 'n dankbare hand voor die lig na groen oorslaan en jy wegry — met vrae wat aanhou knaag. Of miskien is daar 'n e-posboodskap van Grace, 'n vrou wat jy op 'n uitreik ontmoet het. Sy het mediese sorg nodig — en wil weet of jy moontlik finansieel kan bydra? Die volgende oggend klik jy 'n paar knoppies op jou internetbank en stuur gou-gou R900 — 'n kleinerige bedrag vir jou, maar 'n fortuin vir Grace. Jy kan werk toe gaan met 'n gewete wat gesus is.

Sien. Wanneer hulle die tempel binnegaan, stap Petrus en Johannes verby 'n verlamde man wat deur sy vriende daar neergesit is om te bedel. Die meeste mense kyk weg en stap verby. Ander gooi 'n paar muntstukke in soos die Joodse wet beveel. Petrus en Johannes doen egter iets anders. Die Skrif sê, Petrus het na hom gekyk, of, volgens party vertalings, hom "stip aangekyk". Dié soort taalgebruik suggereer, wanneer die apostels stip na die man kyk, hulle sy dieper behoeftes aan genesing en waardigheid as mens raakgesien het. Toe Petrus hom beveel om op te staan en te loop, het hy opgespring na 'n nuwe lewe van beide geestelike en fisieke volkomenheid.

Gaan dieper. Wanneer jy te staan kom voor 'n behoefte van iemand wat arm is — of jy daarvan hoor of dit self waarneem — gaan staan en kyk. Probeer die persoon se omstandighede en verhaal verstaan, en begryp nie net hul ooglopende behoeftes nie, maar ook die individu se potensiaal en waardigheid as 'n beelddraer van God. Bid. Dink aan hoe jy, plaaslike gemeentes of bedienings, moontlik oor 'n lang periode 'n verhouding met hierdie individu kan bou en hom of haar na Christus se versoeningswerk kan wys, maar ook 'n omgewing kan skep waarin blywende verandering kan plaasvind.

Vader, wanneer ek behoeftiges teëkom, gee my dan geduld en begrip hoe ek hulle waardigheid kan erken en werklike verandering in hul lewens kan ondersteun. Vergewe my vir die kere wat ek óf mense se behoeftes geïgnoreer het, óf bloot opgetree het om my eie gewete te sus. Gee vir my wysheid om te onderskei hoe ek moet reageer om die beste hulp te verleen.

Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Helping Without Hurting: The Bible and the Poor

Die Bybel gee ons die opdrag om vir die armes en verdruktes te sorg. Kom verken die diepte van God se besorgdheid oor hulle, en hoe jy dalk sélf op hierdie roeping kan reageer. Elke dag sluit ’n ware verhaal of staaltjie, ’n Skrifgedeelte en oordenking, ’n uitdaging en ’n gebed in. Die oordenkings is geïnspireer deur, of aangepas uit Steve Corbett en Brian Fikkert se boek "When Helping Hurts: How to Alleviate Poverty Without Hurting the Poor ... and Yourself".

More

Baie dankie aan Die Chalmerssentrum vir die voorsiening van hierdie leesplan. Besoek www.chalmers.org vir meer inligting