Om te Help Sonder om te Skaad: Die Bybel en die ArmesVoorbeeld
Waarom Jesus gekom het
"God het besluit om met sy volle wese in Hom te woon en om deur Hom alles met Homself te versoen. Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen" (Kolossense 1:19-20).
Vroomheid. In sy boek "The Last Days: A Son’s Story of Sin and Segregation at the Dawn of the New South", beskryf Charles Marsh sy grootworddae as die seun van 'n pastoor in Laurel, Mississippi, gedurende die sestigerjare. Rassespanning en onderdrukking het 'n hoogtepunt bereik, met bendeteregstellings en brande van kruise oral in die nuus. Eerwaarde Marsh het getrou aangehou om die evangelie te verkondig, maar hoewel hy die Wit Ridders van die Ku Klux Klan verafsku het, was hy van die oortuiging dat die werk van die Here nie uitsprake oor rasse-ongeregtigheid en -geweld insluit nie. In sy woorde was hierdie dinge bloot politieke sake wat "min of niks met die geestelike geografie van 'n pelgrim se reis na die ewigheid te doen het nie" — maar dít is 'n leë, halwe weergawe van die evangelie.
Koninkryk. Die evangelie is nie goeie nuus oor persoonlike verlossing en 'n beroep op individuele vroomheid of heiligheid nie. Dis 'n bekendmaking van en 'n oproep om God se koninkrykswerk aan die wêreld te demonstreer. Jesus het gekom om "alles op die aarde en in die hemel met Homself [te] versoen" (vers 20) deur sy bloed aan die kruis. Hy is gemoeid daarmee om die gevolge van sonde ongedaan te maak, so ver as die vloek daarvan strek. Die sonde het afstand tussen die mens en God gebring, maar het ook mense se verhoudings met mekaar, hulself, en die skepping vernietig. Christus het gekom om die geestelike, sosiale, liggaamlike en psigologiese gevolge van die sonde te kom genees. Alhoewel die volheid van die koninkryk slegs vir gelowiges beskore is, raak sy werk alle aspekte van die skepping.
Versoening. As dit Jesus se doel was om die goeie nuus van sy koninkryk in woord en daad te verkondig, behoort dit ook ons doel te wees. God roep ons om ambassadeurs vir sy versoening te wees (2 Korintiërs 5:20), en die evangelie in woord en daad te verkondig. Ons is geroep om Christus se versoeningswerk tot stand te bring, oral waar die sonde 'n uitwerking op individue en sosiale stelsels het. Ons is op soek na 'n Christusgesentreerde, volronde koninkryksperspektief wat die verligting van armoede behels.
Jesus, skenk aan ons u koninkryksvisie vir beide ons eie lewens en dié van die materieel behoeftiges. Help ons om die diepgaande uitwerking van sonde op die mens as geheel en op die gemeenskap raak te sien, en om ambassadeurs vir u versoeningswerk te wees.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Die Bybel gee ons die opdrag om vir die armes en verdruktes te sorg. Kom verken die diepte van God se besorgdheid oor hulle, en hoe jy dalk sélf op hierdie roeping kan reageer. Elke dag sluit ’n ware verhaal of staaltjie, ’n Skrifgedeelte en oordenking, ’n uitdaging en ’n gebed in. Die oordenkings is geïnspireer deur, of aangepas uit Steve Corbett en Brian Fikkert se boek "When Helping Hurts: How to Alleviate Poverty Without Hurting the Poor ... and Yourself".
More