Om te Help Sonder om te Skaad: Die Bybel en die ArmesVoorbeeld
Ons Naaste
"Maar die wetgeleerde wou homself handhaaf en vra vir Jesus: 'En wie is my naaste?'” (Lukas 10:29).
Onsigbaar. Johnny Price is 44 jaar oud en werkloos terwyl hy ook sukkel om twee kinders alleen groot te maak. Jodi verdien R19 per uur en maak op 'n sopkombuis staat vir oorlewing. Rosa woon in 'n onverhitte motorhuis en sê dat die helfte van die mense in haar kerk in soortgelyke omstandighede lewe. Juanita, wat onlangs geïmmigreer het, werk 70 ure per week as 'n huishulp vir omtrent R40 per uur. Geeneen van hierdie individue woon in lae-inkomste gebiede in die middestad, of in Derde-wêreldse nedersettings nie — almal woon in voorstedelike gebiede in Suid-Afrika. Tog voel hulle meestal onsigbaar. 'n Wetgeleerde wat Jesus wou vasvra, het gevra hoe 'n mens die ewige lewe verkry. Hy het reeds die antwoord geken, naamlik: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand ... Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Matteus 22:37). Die wetgeleerde het egter aangehou omdat hy homself wou regverdig. Hy vra toe vir Jesus: “En wie is my naaste?” Jesus reageer toe daarop met die gelykenis van 'n Samaritaan wat op 'n man langs die pad afgekom het wat besteel, aangerand en vir die dood agtergelaat is. As 'n vreemdeling het hy die man se wonde verbind en hom na 'n herberg geneem waar hy hom verder versorg het. Die barmhartige Samaritaan wat op sy reis onderbreek en verontrief is, het nogtans met medelye na die man voor hom gekyk — sy naaste — en in sy behoeftes voorsien.
Nabyheid. Die behoeftiges is nie net "daar buite" nie, maar in ons midde, as ons net sou kyk. In die voorstad woon armes dikwels in ouer woonstelkomplekse, woonwaens, en in beskeie enkelgesinhuisies in die skadu van 450 vierkante meter gesinswonings. Ons naaste is nie net die weeskind in Ethiopië wat ons finansieel kan ondersteun en vir wie ons af en toe 'n brief skryf nie. Dit is ook die enkelma wat in 'n vervalle woonstelblok net 'n entjie van ons eie huis af sukkel om te oorleef. Is ons bereid om onderbreek en verontrief te word? Is ons gewillig om naastes te wees vir diegene wat ons daaglikse lewens kan kompliseer? Kyk om jou. Jesus sê: “Gaan maak jy ook so.”
Jesus, maak ons oë oop en wys ons naaste aan ons. Gee ons medelye en 'n gewilligheid om onderbreek en verontrief te word deur die materieel behoeftiges in ons midde.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Die Bybel gee ons die opdrag om vir die armes en verdruktes te sorg. Kom verken die diepte van God se besorgdheid oor hulle, en hoe jy dalk sélf op hierdie roeping kan reageer. Elke dag sluit ’n ware verhaal of staaltjie, ’n Skrifgedeelte en oordenking, ’n uitdaging en ’n gebed in. Die oordenkings is geïnspireer deur, of aangepas uit Steve Corbett en Brian Fikkert se boek "When Helping Hurts: How to Alleviate Poverty Without Hurting the Poor ... and Yourself".
More