Moenie Opgee NieVoorbeeld
Dag 4 — Die Beloning Voor Jou
Geen atleet ontvang 'n medalje sonder dat hy die wedloop gehardloop het nie. Geen rugbyspeler wen die wêreldbeker sonder baie vooraf oefeninge en wedstryde nie. Geen kok wen Kokkedore sonder harde werk en vasberadenheid in die kombuis nie. (Self-verklaarde kosliefhebber, dis ek!).
Die punt is, enige en elke beloning kom met uithouvermoë. Dit kan verseker goeie dinge hier op aarde beteken as ons God eerste soek. Waardevoller as enige tydelike beloning, is egter 'n ewige beloning, en dit word aan 'n getroue gelowige gegee.
Jy moenie opgee wanneer jy versoeking en beproewinge in die gesig staar nie. Jy moenie die handdoek ingooi wanneer die storms jou tam maak nie. Selfs wanneer jy skaars kop bo water kan hou, moet jy aanhou roei totdat hulp opdaag. Moet net nie opgee nie. Jou beloning sal wonderlik wees!
As jy hierdie wedloop met volharding hardloop, wag jou beloning — die ewige lewe en vervulling van alles wat God jou belowe het. As jy jou oë op Jesus hou en gelowig bly, sal jy dit nooit berou dat jy jou alles aan God gegee het nie. Jy sal egter sonder twyfel die oomblikke berou wat jy opgegee het. Steek die wenpaal in jou uitputting oor omdat jy jou alles gegee het, in blydskap, met 'n verwagting van God se beloning.
Aangaande hierdie leesplan
Was jy al ooit so moeg en verslaan deur die lewe dat jy die handdoek wou ingooi en opgee? Die Bybel is vol bemoediging om te volhard en aan te hou! Hierdie 7-dag leesplan sal jou verfris vir die reis wat voorlê.
More