Ek Voel OnbekwaamVoorbeeld
Breek deur beperkings
Eers wanneer ons ons beperkings aanvaar, kan ons daarby verby beweeg. – Albert Einstein
As jy al ooit gewonder het: Wat is Jesus se plan met my? ,kom ek vertel jou dan. Jesus gebruik mense met perke om onbeperkte dinge te verrig. Dit is wat Hy toe gedoen het en wat Hy nou gaan doen.
Ons het gelees van die seuntjie wat sy vyf brode en twee visse vir Jesus gegee het, en dat Jesus daarmee duisende mense gevoed het. Die brood kon oud gewees het en die vis bietjie af, maar al wat saak gemaak het, was dat die kos in Jesus se hande was.
Wat vir ons “nie genoeg” is nie, word meer as genoeg wanneer ons dit vir Jesus beskikbaar stel.
Hoe lyk dit in ons alledaagse lewe?
Sommige van ons maak nou tieners groot. Soms kyk ons na hulle en vra dan vir Jesus: Hoekom het U my gekies om hierdie kind groot te maak? Ek doen dan alles verkeerd. My kind dink ek is aaklig en ek sukkel.
Jesus sê vir jou: “Jy is presies waar ek wil hê jy moet wees – besig om hierdie kind groot te maak sodat Ek verheerlik kan word. Ontspan dus. Laat My toe om deur jou te werk. Vertrou op My.”
Sommige van ons lei bedienings en is ten volle bewus van al ons tekortkominge. Ons is van ons perke bewus en ons glo dat ons beperkings ons bydraes tot ons bedienings laat tekort skiet.
Jesus weet dit is nie die waarheid nie. Inteendeel, ons beperkings gee Hom die geleentheid om sy krag te demonstreer.
Daar word van sommige mense gevra om oorvloedig te gee, maar al waaraan ons kan dink is ons beperkte inkomste. Luister, al het jy min, vertrou op God. Sit jou gawes in sy hande en kyk wat Hy daarmee doen.
Selfs krummels word vermenigvuldig wanneer dit vir Jesus gegee word.
Jesus, miskien sien ek net al my tekortkominge wanneer ek na my lewe kyk — tyd, geld, talente en gawes. Help my om deur U oë te kyk. Laat ek al my tekortkominge raaksien as die perfekte ruimtes waarin U kan werk. Dankie dat U my nooi om deel te vorm van U wonderlike plan. Amen.
Nadenke:
1. Vra God my om iets te doen waarvoor ek onbekwaam voel?
2. Moet ek op God vertrou om my te bemagtig?
3. Kan ek myself tot beskikking van God stel, ondanks my tekortkominge en swakhede?
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Voel jy onbekwaam vir dit wat God jou vra om te doen? Is dit iets buite jou talente, vermoëns of vaardighede? In hierdie 5-dag leesplan deel Pete Briscoe hoe aardse beperkings nooit verhinder wat God deur ons wil bereik nie. Ons kan vertrou dat as God ons geroep het — Hy ons sal toerus.
More