Lewensbeginsels Waarvolgens Jy Kan LeefVoorbeeld

Life Principles To Live By

DAG 16 VAN 36

Wanneer Planne tot Niet Gaan

Lewensbeginsel 16: Alles wat ons buite God se wil doen, gaan uiteindelik tot niet.

Die diepste begeerte in enige mens se hart — die een ding waarna elkeen waarlik smag — is om God te ken.

Dit mag wees dat jy nie dadelik besef dat die begeerte binne jou 'n begeerte na God is nie — in werklikheid mag jy dalk net ontevrede wees met jou lewe. Dalk ervaar jy dat die verhouding waarin jy tans is, nie is wat jy gedink het dit gaan wees nie. Dalk het jy alles wat jy begeer en tog voel jy steeds soms 'n onverklaarbare verlange, hartseer en eensaamheid.

Gevoelens van ontevredenheid, onvervulde verwagtinge, bedruktheid en verlatenheid het almal dieselfde oorsprong: 'n honger na God. Augustinus het eeue gelede geskryf: "U het ons vir Uself gemaak en ons harte sal rusteloos bly totdat ons rus in U vind." Wanneer ons versadig word met God se teenwoordigheid, het ons veel minder nodig van wat die wêreld ons kan bied. Soos ons 'n verhouding met die Here vestig, belowe Hy om meer van Homself aan ons te openbaar.

Wanneer jou verhouding met God ontwikkel en jy meer van sy heilige karakter ontdek, vernuwe Hy ook jou hart en denke sodat jy voortdurend verlang om Hom meer intiem te leer ken — en jou vleeslike begeertes gaan in die proses tot niet. Jou wêreldse begeertes kan eenvoudig nie vergelyk word met die gemak, vreugde en vervulling wat God jou bied nie. Jy sien eerder dié dinge tot niet gaan wat jy buite sy wil verkry, terwyl die seëninge wat Hy aan jou gee voortduur en jou siel tevrede stel.

Ons leer nou opnuut dat enigiets wat ons buite sy wil verkry ons uiteindelik sal teleurstel, want Hy sal ons vir ewig met ware oorvloedige "blydskap" vervul (Psalm 16:11).

Dag 15Dag 17

Aangaande hierdie leesplan

Life Principles To Live By

Gedurende sy meer as 60 jaar in die bediening, het dr. Charles Stanley die 30 lewensbeginsels getrou beklemtoon wat hom gelei en help groei het in sy kennis, diens en liefde vir God. Laat hom toe om jou te help om elkeen van hierdie beginsels deeglik te ondersoek, om jou te leer hoe om hulle elke dag prakties toe te pas en om jou te lei om die oorvloedige lewe te kan geniet wat Christus vir jou wil gee.  

More

Ons wil graag "In Touch Ministries" vir die verskaffing van hierdie leesplan bedank. Besoek gerus https://intouch.cc/lp-journal vir meer inligting.