Vas soos DaniëlVoorbeeld
'n Oproep tot Gebed
In vandag se Skrifgedeelte sal ons sien hoe Daniël se vyande geen fout by hom kon vind nie. Hulle het dus 'n plan beraam om hom in die moeilikheid te laat beland, omdat hy gebid het.
Sou jou vyande dieselfde kon doen? Of sal 'n wet teen gebed nie juis jou doen en late beïnvloed nie? Daniël het drie maal per dag in nederigheid tot God gebid en dit het hom definitief in die moeilikheid laat beland. As ons Christene in die tronk gaan gooi omdat hulle drie maal 'n dag in die openbaar bid, dink ek nie dat ons oorvol tronke sal hê nie.
Daniël se gebed het hom in die moeilikheid laat beland, maar dit het hom ook uit die moeilikheid gekry, want God is magtig. Ons gebede is kragtig wanneer hulle nederig is.
Hoe dikwels sien jy egter dat nederigheid in ons wêreld aangemoedig word? Heel moontlik net soveel soos destyds in Daniël se wêreld. Ja, ons sien baie mense in die kerk wat beweer hulle is nederig. Jy weet waarvan ek praat — die mense wat openlik sê: "Ek is 'n nederige mens!" Regtig? As jy nederig is, hoef jy dit nie aan almal te verkondig nie. Nederigheid is nie iets wat jy doen of sê nie, dit is die wese van wie jy is.
"Ware nederigheid" verskil hemelsbreed van "valse nederigheid". Ware nederigheid is wanneer jy besef dat elke goeie en volmaakte gawe, talent en sukses van God af kom. Valse nederigheid is wanneer jy jou eie heiligheid, suksesse, gawes, talente en prestasies "afkeur" in die hoop dat ander mense jou sal prys en vlei.
Daniël was nie net 'n persoon wat gebid het nie, hy was 'n man wat waarlik nederig voor God was. Dink aan die integriteit en honger wat jy in Daniël waarneem terwyl hy drie maal 'n dag voor God kniel en bid. Hy het niks van God geëis nie; drie maal 'n dag het hy God in nederigheid opgesoek omdat hy Hom nodig gehad het.
Wanneer laas het jy gekniel om te bid? Wanneer laas het jy waarlik nederig in gebed gevoel, eerder as net om vir God dinge te vra? As dit lank gelede was, sal jy dit dalk nou wil probeer doen.
Die Bybel stel dit so: "Onderwerp julle daarom in nederigheid aan die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die tyd wat Hy bestem het" (1 Petrus 5:6). Daniël het dit drie maal 'n dag op sy knieë gedoen. Hoe sal jy dit vandag en vir die volgende drie weke doen?
Aangaande hierdie leesplan
Laat ek nou maar eerlik wees, ek hou nie van vas nie! Dis nie pret om van jou geliefkoosde kos en die gemaklike leefstyl wat jy handhaaf, afstand te doen nie. Ek hou dalk nie van vas nie, maar ek hou baie van die resultate. Die "Daniël vas" het MY LEWE VERANDER! As jy die vas toegewyd doen en hierdie leesplan volg, gaan dit jou lewe ook verander. Kom ons skep ruimte vir God op hierdie aangryplike reis wanneer ons vas soos Daniël dit gedoen het.
More