Die Woord van God vir Elke BehoefteVoorbeeld
ONS WARE IDENTITEIT
“… en julle sal vir My seuns en dogters wees ...” (2 Korintiërs 6:18).
Elke goeie pa het ‘n droom vir sy kinders. In die vorige oordenking het ons van ‘n gedeelte van God se droom vir ons bewus geword: “ … Ek sal vir julle ‘n Vader wees …” (2 Korintiërs 6:18). Dit was God se plan nog voor die grondlegging van die wêreld. Daar is egter méér. God begeer nie net dat ons sy ware identiteit ken nie; Hy begeer ook dat ons óns ware identiteit moet ken. As God ons Vader is, wat is ons status dan voor God? Wanneer ons kies om volgelinge te wees van sy Seun, Jesus Christus, ís ons sy seuns en dogters. Daar is géén groter vreugde as die wete dat God die Vader is na wie ons almal gesmag het, en om as sy aangenome seuns en dogters ons in dié voorreg te verlustig nie. Dit is sy droom vir ons lewens. Kom ons maak dit ons vernaamste doel om (as erfgename) uit die oorvloed te leef wat die Vader, verhewe bo almal, aan ons as seuns en dogters skenk. Kom ons maak dit ons lewensdoel om vir ons hemelse Vader die béste seuns en dogters moontlik te wees. Dit is die Vader se droom vir ons lewens. Kom ons maak dit ook ons droom!
GEBED
Dierbare Vader, dankie dat U my geroep het om u aangenome kind te wees. Help my om my identiteit in hierdie wonderlike eer te vind. In die Naam van Jesus. Amen.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Die lewe kan moeilik wees. Wanneer jy voor uitdagings te staan kom en bemoediging nodig het, is die Woord van God jou beste toevlugsoord. Dit is egter dikwels moeilik om te weet waar om te soek. Die oordenkings in hierdie leesplan, Die Woord van God vir Elke Behoefte, bevat belangrike Skrifgedeeltes wat elkeen wat die Bybel bestudeer, kan raadpleeg wanneer die lewe met jou wipplank ry. Vertrou op God om jou deur jou moeilike tye te dra.
More