NUMERI 13:1-24

NUMERI 13:1-24 Bybel vir almal (ABA)

Die Here het vir Moses gesê: “Jy moet mense stuur om te kyk hoe die land Kanaän lyk, die land wat Ek vir die Israeliete gee. Julle moet een persoon uit elke stam stuur, een van die stam se leiers.” Moses het toe mense uit die Paran-woestyn gestuur. Hulle was almal leiers van die Israeliete. Hier is hulle name: Vir die Ruben-stam het Sammua seun van Sakkur gegaan, vir Simeon: Safat seun van Gori, vir Juda: Kaleb seun van Jefunne, vir Issaskar: Jigal seun van Josef, vir Efraim: Hosea seun van Nun, vir Benjamin: Palti seun van Rafu, vir Sebulon: Gaddiël seun van Sodi, vir Manasse van die Josef-stam: Gaddi seun van Susi, vir Dan: Ammiël seun van Gemalli, vir Aser: Setur seun van Mikael, vir Naftali: Nagbi seun van Wofsi, vir Gad: Geüel seun van Maki. Dit is die name van die mense wat Moses gestuur het om te gaan kyk hoe die land lyk. Moses het vir Hosea seun van Nun die naam Josua gegee. Toe Moses hulle gestuur het om te gaan kyk hoe die land lyk, het hy vir hulle gesê: “Julle moet van hier deur die Suid-land na die berge gaan. Julle moet kyk hoe die land is en of die mense wat in die land woon, sterk of swak is, of hulle min of baie is. Julle moet kyk of dit 'n goeie of 'n slegte land is waarin hulle woon, en of hulle woon in kampe of in stede wat sterk mure het. Julle moet kyk of die grond vrugbaar is of nie, en julle moet kyk of daar bome is of nie. Julle moenie bang wees nie, julle moet van die vrugte in die land saambring wanneer julle terugkom.” Dit was die tyd wanneer die druiwe begin ryp word. Die manne het gegaan en hulle het gekyk hoe die land lyk, van die Sin-woestyn tot by die stad Regob naby die stad Lebo-Hamat. Toe hulle deur die Suid-land gaan en by die stad Hebron kom, het hulle die Enak-mense Agiman, Sesai en Talmai daar gekry. Mense het die stad Hebron gebou sewe jaar voordat hulle die stad Soan in Egipte gebou het. Toe die manne by 'n vallei kom waar daar druiwe is, het hulle 'n tak afgesny. Daar was 'n tros druiwe aan die tak, en twee van die manne het die druiwe vasgemaak aan 'n paal en hulle het dit op hulle skouers gedra. Hulle het ook granate en vye saamgebring. Hulle het daardie plek “Druiwe-vallei” genoem omdat die Israeliete die tros druiwe daar afgesny het.

NUMERI 13:1-24 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN die HERE het met Moses gespreek en gesê: Stuur vir jou manne uit, dat hulle die land Kanaän wat Ek aan die kinders van Israel sal gee, kan verken. Van elke vaderlike stam moet julle een man stuur, elkeen 'n owerste onder hulle. En Moses het hulle uitgestuur uit die woestyn Paran, volgens die bevel van die HERE — hulle almal manne wat hoofde was van die kinders van Israel. En dit is hulle name: Van die stam van Ruben: Sámmua, die seun van Sakkur. Van die stam van Símeon: Safat, die seun van Hori. Van die stam van Juda: Kaleb, die seun van Jefúnne. Van die stam van Íssaskar: Jígeal, die seun van Josef. Van die stam van Efraim: Hoséa, die seun van Nun. Van die stam van Benjamin: Palti, die seun van Rafu. Van die stam van Sébulon: Gáddiël, die seun van Sodi. Van die stam van Josef, vir die stam van Manasse: Gaddi, die seun van Susi. Van die stam van Dan: Ámmiël, die seun van Gemálli. Van die stam van Aser: Setur, die seun van Mígael. Van die stam van Náftali: Nagbi, die seun van Wofsi. Van die stam van Gad: Géhuel, die seun van Magi. Dit is die name van die manne wat Moses gestuur het om die land te verken; en Moses het Hoséa, die seun van Nun, Josua genoem. En Moses het hulle gestuur om die land Kanaän te verken en vir hulle gesê: Trek hier in die Suidland op en beklim die gebergte. En bekyk die land, hoe dit is, en die volk wat daarin woon, of dit sterk of swak, of dit min of baie is; en hoe die land is waar hulle in woon, of dit goed of sleg is; en hoe die stede is waar hulle in woon, laers of vestings; ook hoe die land is, of dit vet of skraal is, of daar bome in is of nie; en wees dapper en bring van die vrugte van die land saam. Dit was toe die tyd van die eerste druiwe. En hulle het opgetrek en die land verken van die woestyn Sin af tot by Rehob, na die ingang van Hammat — hulle het in die Suidland opgetrek en tot by Hebron gekom; en daar was Ahíman, Sesai en Talmai, die kinders van die Enakiete. En Hebron is sewe jaar voor Soan in Egipte gebou. Daarop het hulle tot by die dal Eskol gekom en daar 'n rank met een tros druiwe afgesny, en twee het dit aan 'n draagstok gedra; ook van die granate en van die vye. Dié plek het hulle die dal Eskol genoem vanweë die tros wat die kinders van Israel daar afgesny het.

NUMERI 13:1-24 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die Here het vir Moses gesê: “Stuur manne om Kanaän, wat Ek aan die Israeliete sal gee, te verken. Uit elke voorvaderlike stam moet jy een stuur wat 'n leier onder hulle is.” Op die bevel van die Here het Moses hulle toe van die Paranwoestyn af uitgestuur. Al die manne was leiers onder die Israeliete. Hulle was Sammua, seun van Sakkur uit die stam Ruben, Safat, seun van Gori uit die stam Simeon, Kaleb, seun van Jefunne uit die stam Juda, Jigal, seun van Josef uit die stam Issaskar, Hosea, seun van Nun uit die stam Efraim, Palti, seun van Rafu uit die stam Benjamin, Gaddiël, seun van Sodi uit die stam Sebulon, Gaddi, seun van Susi uit die stam Manasse, 'n Josefstam, Ammiël, seun van Gemalli uit die stam Dan, Setur, seun van Migael uit die stam Aser, Nagbi, seun van Wofsi uit die stam Naftali, en Geüel, seun van Maki uit die stam Gad. Dit is die name van die manne vir wie Moses gestuur het om die land te verken. Moses het aan Hosea seun van Nun die naam Josua gegee. Moses het hulle gestuur om Kanaän te verken, en vir hulle gesê: “Trek deur die Suidland en op na die bergwêreld toe. Bekyk die land, hoe dit is, en of die mense wat daar woon, sterk of swak, min of baie is, of die land waarin hulle woon, goed of sleg is, en of die mense se stede oop of versterk is, of die grond vrugbaar of skraal is, of dit bome het of nie. Doen julle bes om van die land se vrugte saam te bring.” Dit was juis die tyd van die eerste ryp druiwe. Hulle het toe die land gaan verken, van die Sinwoestyn af tot by Regob, by Lebo-Hamat. Hulle het deur die Suidland getrek en by Hebron gekom, waar Agiman, Sesai en Talmai, afstammelinge van Enak, gewoon het. Hebron is reeds sewe jaar voor die Egiptiese stad Soan gebou. Toe hulle by Eskolspruit kom, het hulle daar 'n rank met een druiwetros afgesny. Twee van hulle het dit aan 'n stok gedra, saam met 'n paar granate en vye. As gevolg van die tros wat die Israeliete daar afgesny het, het hulle die plek Eskolspruit genoem.

NUMERI 13:1-24 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die HERE het met Moses gepraat en gesê: “Stuur vir jou manne uit sodat hulle die land Kanaän, wat Ek vir die Israeliete gaan gee, kan verken. Een man uit elk van die stamme van hulle voorouers, elkeen van hulle 'n leier, moet julle stuur.” Moses het hulle op bevel van die HERE uit die Paranwoestyn gestuur. Almal van hulle was manne wat leiers was onder die Israeliete. Dit was hulle name: Vir die stam van Ruben was dit Sammua, seun van Sakkur; vir die stam van Simeon was dit Safat, seun van Gori; vir die stam van Juda was dit Kaleb, seun van Jefunne; vir die stam van Issaskar was dit Jigal, seun van Josef; vir die stam van Efraim was dit Hosea, seun van Nun; vir die stam van Benjamin was dit Palti, seun van Rafu; vir die stam van Sebulon was dit Gaddiël, seun van Sodi; vir die stam van Josef, naamlik die stam van Manasse, was dit Gaddi, seun van Susi; vir die stam van Dan was dit Ammiël, seun van Gemalli; vir die stam van Aser was dit Setur, seun van Migael; vir die stam van Naftali was dit Nagbi, seun van Wofsi; vir die stam van Gad was dit Geüel, seun van Magi. Dit was die name van die manne wat Moses uitgestuur het om die land te verken. Moses het Hosea, seun van Nun, Josua genoem. Moses het hulle uitgestuur om die land Kanaän te verken. Hy het vir hulle gesê: “Trek hier in die Negev op, en gaan dan op in die bergwêreld. Bekyk die land: Hoe is dit? En die volk wat daarin woon, is dit 'n sterk of swak volk, is hulle min of baie? En hoe is die land waarin hulle woon? Is dit goed of sleg? En hoe is die dorpe waarin die volk woon? Woon hulle in kampe of in versterkte stede? En hoe is die grond? Is dit vrugbaar of skraal? Is daar bome of nie? Span julle in en bring van die land se vrugte saam.” Dit was toe net die tyd van die vroeë druiwe. Hulle het opgetrek en die land verken vanuit die Tsinwoestyn tot by Regob, by Lebo-Hamat. Hulle het opgetrek deur die Negev en Hebron bereik, waar Agiman, Sesai en Talmai, die afstammelinge van die Enakiete was. Hebron is sewe jaar voor Soan in Egipte gebou. Toe hulle die Eskoldal bereik, sny hulle daar 'n rank met een druiwetros wat twee van hulle met 'n draaghout gedra het, af, en ook van die granate en vye. Daardie plek is toe Eskoldal genoem, oor die druiwetros wat die Israeliete daar afgesny het.

NUMERI 13:1-24 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En die HERE het met Moses gespreek en gesê: Stuur vir jou manne dat hulle die land Kanaän kan verken wat Ek aan die kinders van Israel gee; van elke stam van hulle vaders moet julle 'n man stuur, elkeen 'n owerste onder hulle. En Moses het hulle op bevel van die HERE uit die woestyn Paran gestuur; al daardie manne was hoofde van die kinders van Israel. En dit was hulle name: van die stam van Ruben: Sammua, die seun van Sakkur. Van die stam van Simeon: Safat, die seun van Hori. Van die stam van Juda, Kaleb, die seun van Jefunne. Van die stam van Issaskar: Igal, die seun van Josef. Van die stam van Efraim: Osea, die seun van Nun. Van die stam van Benjamin: Palti, die seun van Rafu. Van die stam van Sebulon: Gaddiël, die seun van Sodi. Van die stam van Josef, naamlik van die stam van Manasse, Gaddi, die seun van Susi. Van die stam van Dan, Ammiël, die seun van Gemalli. Van die stam van Aser: Setur, die seun van Mígael. Van die stam van Náftali: Nagbi, die seun van Wofsi. Van die stam van Gad: Geuel, die seun van Magi. Dit is die name van die manne wat Moses gestuur het om die land te verken. En Moses het Osea, die seun van Nun Josua, geroep. En Moses het hulle gestuur om die land Kanaän te verken en vir hulle gesê: Trek op hierdie pad suidwaarts en klim op die berg. En kyk na die land wat dit is; en die volk wat daarin woon, of hulle sterk of swak is, min of baie; En wat die land is waarin hulle woon, of dit goed of sleg is; en watter stede is dit waarin hulle woon, of dit in tente of in vestings is; En wat die land is, of dit vet of maer is, of daar hout daarin is of nie. En hou goeie moed en bring van die vrugte van die land. Nou was die tyd die tyd van die eerste ryp druiwe. Hulle het toe opgetrek en die land verken van die woestyn Sin af tot by Rehob, soos die mense by Hamat kom. En hulle het na die suide opgetrek en by Hebron aangekom; waar Ahiman, Sesai en Talmai, die kinders van Enak, was. (Nou is Hebron sewe jaar voor Soan in Egipte gebou.) En hulle het by die spruit Eskol gekom en daarvandaan 'n rank afgekap met een druiwetros, en dit tussen twee aan 'n staf gedra; en hulle het van die granate en van die vye gebring. Die plek is genoem die spruit Eskol vanweë die druiwetros wat die kinders van Israel daarvandaan afgesny het.

NUMERI 13:1-24 Die Boodskap (DB)

Die Here sê toe vir Moses: “Kies nou ’n leier uit elkeen van die twaalf stamme en stuur die twaalf om die land Kanaän ongemerk te gaan deurkyk, want dit is die land wat Ek vir die Israeliete gaan gee om in te bly.” Moses het toe die volgende leiers daar uit die Paranwoestyn Kanaän toe gestuur: Sammua, die seun van Sakkur uit die stam van Ruben Safat, die seun van Gori uit die stam van Simeon Kaleb, die seun van Jefunne uit die stam van Juda Jigal, die seun van Josef uit die stam van Issaskar Hosea, die seun van Nun uit die stam van Efraim Salti, die seun van Rafu uit die stam van Benjamin Gaddiël, die seun van Sodi uit die stam van Sebulon Gaddi, die seun van Susi uit die stam van Manasse, ’n Josefstam Ammiël, die seun van Gemalli uit die stam van Dan Setur, die seun van Migael uit die stam van Aser Nagbi, die seun van Wofsi uit die stam van Naftali Geüel, die seun van Maki uit die stam van Gad Dit is die manne wat Moses gestuur het om die land te gaan deurkyk. Moses het Nun se seun Hosea se naam na Josua verander. Moses het vir hulle gesê: “Gaan noord hiervandaan, deur die Negevwoestyn en dan al met die berge van Kanaän langs. Vind uit watter soort gebied dit is en hoeveel mense daar bly. Kyk of hulle hulleself sal kan verdedig as ons hulle sou aanval. Vind ook uit of dit goeie grondgebied is of nie. Kyk ook hoeveel van hulle stede versterkte mure het. Verder moet julle kyk of die gebied vrugbaar is en of dit bome het. Maak seker dat julle ook van die vrugte van die land vir ons saambring.” Dit was juis tyd vir die vroeë druiwe om ryp te word toe Moses hulle die land in gestuur het. Hulle is toe daar weg en het die hele land deurgegaan van die Sinaiwoestyn in die suide af tot by Regob in die noorde, naby Hamat. Hulle is toe deur die Negev. Die eerste plek waar hulle aangekom het, was Hebron, ’n stad wat reeds sewe jaar voor die Egiptiese stad Soan gebou is. Enak se afstammelinge, Agiman, Sesai en Tamai, het hier gebly. Daarna is hulle af na die Eskolvallei toe, waar hulle ’n tros druiwe afgesny het. Die tros was so groot dat twee van hulle dit moes dra terwyl dit aan ’n stok gehang het. Hulle het ook ’n klompie granate en vye saamgevat. Hulle het die plek Eskol, of “druiwetros”, genoem, omdat hulle so ’n groot tros druiwe daar afgesny het.

NUMERI 13:1-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die HERE het toe vir Moses gesê: “Stuur mans uit om die land Kanaän te gaan verken wat Ek aan die Israeliete gaan gee. Stuur van elke stam een van hulle leiers uit.” Moses het gemaak soos die HERE gesê het. Hy het daar van die Paranwoestyn af mans na Kanaän toe uitgestuur. Elkeen van hulle was ’n leier in Israel. Hulle was: Sammua, seun van Sakkur uit die stam Ruben, Safat, seun van Gori uit die stam van Simeon, Kaleb, seun van Jefunne uit die stam Juda, Jigal, seun van Josef uit die stam Issaskar, Hosea, seun van Nun uit die stam Efraim, Palti, seun van Rafu uit die stam Benjamin, Gaddiël, seun van Sodi uit die stam Sebulon, Gaddi, seun van Susi uit die stam Manasse, Ammiël, seun van Gemalli uit die stam Dan, Setur, seun van Migael uit die stam Aser, Nagbi, seun van Wofsi uit die stam Naftali, Geüel, seun van Maki uit die stam Gad. Dit is die name van die mans wat Moses uitgestuur het om die land te gaan verken. Moses het Hosea, die seun van Nun, se naam verander na Josua. Toe hy hulle uitstuur om die land Kanaän te gaan verken, het Moses vir hulle gesê: “Gaan van hier af reg deur die Negevwoestyn noord na die heuwelgebied. Kyk hoe die land is. Kyk of die inwoners sterk of swak is, of hulle min of baie is. Kyk of die land waarin hulle woon goed of sleg is. Kyk of die dorpe waarin hulle woon oop is en of dit met mure versterk is. Let op of die grond ryk of arm is, boomryk is of nie. Wees dapper en bring van die vrugte van die land saam terug.” Dit was juis in die tyd toe die eerste druiwe geoes is. Hulle het toe die land gaan verken, van die Sinwoestyn af deur tot by Regob by Lebo-Hamat. Die mans het deur die suidelike woestyn gegaan en by Hebron aangekom. Enak se nasate, Agiman, Sesai en Talmai, het daar gewoon. Hebron is sewe jaar voor Soan in Egipte gebou. Hulle het daarna by die Eskolspruit aangekom. Daar het hulle ’n tros druiwe gepluk. Hulle moes dit aan ’n stok tussen twee van hulle dra. Hulle het daar ook granate en vye gepluk. Die naam van die plek is toe na Eskol herdoop, na aanleiding van die tros druiwe wat die Israeliete daar gepluk het.