Numeri 13:1-24

Numeri 13:1-24 ABA

Die Here het vir Moses gesê: “Jy moet mense stuur om te kyk hoe die land Kanaän lyk, die land wat Ek vir die Israeliete gee. Julle moet een persoon uit elke stam stuur, een van die stam se leiers.” Moses het toe mense uit die Paran-woestyn gestuur. Hulle was almal leiers van die Israeliete. Hier is hulle name: Vir die Ruben-stam het Sammua seun van Sakkur gegaan, vir Simeon: Safat seun van Gori, vir Juda: Kaleb seun van Jefunne, vir Issaskar: Jigal seun van Josef, vir Efraim: Hosea seun van Nun, vir Benjamin: Palti seun van Rafu, vir Sebulon: Gaddiël seun van Sodi, vir Manasse van die Josef-stam: Gaddi seun van Susi, vir Dan: Ammiël seun van Gemalli, vir Aser: Setur seun van Mikael, vir Naftali: Nagbi seun van Wofsi, vir Gad: Geüel seun van Maki. Dit is die name van die mense wat Moses gestuur het om te gaan kyk hoe die land lyk. Moses het vir Hosea seun van Nun die naam Josua gegee. Toe Moses hulle gestuur het om te gaan kyk hoe die land lyk, het hy vir hulle gesê: “Julle moet van hier deur die Suid-land na die berge gaan. Julle moet kyk hoe die land is en of die mense wat in die land woon, sterk of swak is, of hulle min of baie is. Julle moet kyk of dit 'n goeie of 'n slegte land is waarin hulle woon, en of hulle woon in kampe of in stede wat sterk mure het. Julle moet kyk of die grond vrugbaar is of nie, en julle moet kyk of daar bome is of nie. Julle moenie bang wees nie, julle moet van die vrugte in die land saambring wanneer julle terugkom.” Dit was die tyd wanneer die druiwe begin ryp word. Die manne het gegaan en hulle het gekyk hoe die land lyk, van die Sin-woestyn tot by die stad Regob naby die stad Lebo-Hamat. Toe hulle deur die Suid-land gaan en by die stad Hebron kom, het hulle die Enak-mense Agiman, Sesai en Talmai daar gekry. Mense het die stad Hebron gebou sewe jaar voordat hulle die stad Soan in Egipte gebou het. Toe die manne by 'n vallei kom waar daar druiwe is, het hulle 'n tak afgesny. Daar was 'n tros druiwe aan die tak, en twee van die manne het die druiwe vasgemaak aan 'n paal en hulle het dit op hulle skouers gedra. Hulle het ook granate en vye saamgebring. Hulle het daardie plek “Druiwe-vallei” genoem omdat die Israeliete die tros druiwe daar afgesny het.

Video for Numeri 13:1-24