NUMERI 13:1-24

NUMERI 13:1-24 AFR83

Die Here het vir Moses gesê: “Stuur manne om Kanaän, wat Ek aan die Israeliete sal gee, te verken. Uit elke voorvaderlike stam moet jy een stuur wat 'n leier onder hulle is.” Op die bevel van die Here het Moses hulle toe van die Paranwoestyn af uitgestuur. Al die manne was leiers onder die Israeliete. Hulle was Sammua, seun van Sakkur uit die stam Ruben, Safat, seun van Gori uit die stam Simeon, Kaleb, seun van Jefunne uit die stam Juda, Jigal, seun van Josef uit die stam Issaskar, Hosea, seun van Nun uit die stam Efraim, Palti, seun van Rafu uit die stam Benjamin, Gaddiël, seun van Sodi uit die stam Sebulon, Gaddi, seun van Susi uit die stam Manasse, 'n Josefstam, Ammiël, seun van Gemalli uit die stam Dan, Setur, seun van Migael uit die stam Aser, Nagbi, seun van Wofsi uit die stam Naftali, en Geüel, seun van Maki uit die stam Gad. Dit is die name van die manne vir wie Moses gestuur het om die land te verken. Moses het aan Hosea seun van Nun die naam Josua gegee. Moses het hulle gestuur om Kanaän te verken, en vir hulle gesê: “Trek deur die Suidland en op na die bergwêreld toe. Bekyk die land, hoe dit is, en of die mense wat daar woon, sterk of swak, min of baie is, of die land waarin hulle woon, goed of sleg is, en of die mense se stede oop of versterk is, of die grond vrugbaar of skraal is, of dit bome het of nie. Doen julle bes om van die land se vrugte saam te bring.” Dit was juis die tyd van die eerste ryp druiwe. Hulle het toe die land gaan verken, van die Sinwoestyn af tot by Regob, by Lebo-Hamat. Hulle het deur die Suidland getrek en by Hebron gekom, waar Agiman, Sesai en Talmai, afstammelinge van Enak, gewoon het. Hebron is reeds sewe jaar voor die Egiptiese stad Soan gebou. Toe hulle by Eskolspruit kom, het hulle daar 'n rank met een druiwetros afgesny. Twee van hulle het dit aan 'n stok gedra, saam met 'n paar granate en vye. As gevolg van die tros wat die Israeliete daar afgesny het, het hulle die plek Eskolspruit genoem.

Video for NUMERI 13:1-24