NUMERI 13:1-24

NUMERI 13:1-24 NLV

Die HERE het toe vir Moses gesê: “Stuur mans uit om die land Kanaän te gaan verken wat Ek aan die Israeliete gaan gee. Stuur van elke stam een van hulle leiers uit.” Moses het gemaak soos die HERE gesê het. Hy het daar van die Paranwoestyn af mans na Kanaän toe uitgestuur. Elkeen van hulle was ’n leier in Israel. Hulle was: Sammua, seun van Sakkur uit die stam Ruben, Safat, seun van Gori uit die stam van Simeon, Kaleb, seun van Jefunne uit die stam Juda, Jigal, seun van Josef uit die stam Issaskar, Hosea, seun van Nun uit die stam Efraim, Palti, seun van Rafu uit die stam Benjamin, Gaddiël, seun van Sodi uit die stam Sebulon, Gaddi, seun van Susi uit die stam Manasse, Ammiël, seun van Gemalli uit die stam Dan, Setur, seun van Migael uit die stam Aser, Nagbi, seun van Wofsi uit die stam Naftali, Geüel, seun van Maki uit die stam Gad. Dit is die name van die mans wat Moses uitgestuur het om die land te gaan verken. Moses het Hosea, die seun van Nun, se naam verander na Josua. Toe hy hulle uitstuur om die land Kanaän te gaan verken, het Moses vir hulle gesê: “Gaan van hier af reg deur die Negevwoestyn noord na die heuwelgebied. Kyk hoe die land is. Kyk of die inwoners sterk of swak is, of hulle min of baie is. Kyk of die land waarin hulle woon goed of sleg is. Kyk of die dorpe waarin hulle woon oop is en of dit met mure versterk is. Let op of die grond ryk of arm is, boomryk is of nie. Wees dapper en bring van die vrugte van die land saam terug.” Dit was juis in die tyd toe die eerste druiwe geoes is. Hulle het toe die land gaan verken, van die Sinwoestyn af deur tot by Regob by Lebo-Hamat. Die mans het deur die suidelike woestyn gegaan en by Hebron aangekom. Enak se nasate, Agiman, Sesai en Talmai, het daar gewoon. Hebron is sewe jaar voor Soan in Egipte gebou. Hulle het daarna by die Eskolspruit aangekom. Daar het hulle ’n tros druiwe gepluk. Hulle moes dit aan ’n stok tussen twee van hulle dra. Hulle het daar ook granate en vye gepluk. Die naam van die plek is toe na Eskol herdoop, na aanleiding van die tros druiwe wat die Israeliete daar gepluk het.