NÚMERI 13:1-24

NÚMERI 13:1-24 AFR53

EN die HERE het met Moses gespreek en gesê: Stuur vir jou manne uit, dat hulle die land Kanaän wat Ek aan die kinders van Israel sal gee, kan verken. Van elke vaderlike stam moet julle een man stuur, elkeen 'n owerste onder hulle. En Moses het hulle uitgestuur uit die woestyn Paran, volgens die bevel van die HERE — hulle almal manne wat hoofde was van die kinders van Israel. En dit is hulle name: Van die stam van Ruben: Sámmua, die seun van Sakkur. Van die stam van Símeon: Safat, die seun van Hori. Van die stam van Juda: Kaleb, die seun van Jefúnne. Van die stam van Íssaskar: Jígeal, die seun van Josef. Van die stam van Efraim: Hoséa, die seun van Nun. Van die stam van Benjamin: Palti, die seun van Rafu. Van die stam van Sébulon: Gáddiël, die seun van Sodi. Van die stam van Josef, vir die stam van Manasse: Gaddi, die seun van Susi. Van die stam van Dan: Ámmiël, die seun van Gemálli. Van die stam van Aser: Setur, die seun van Mígael. Van die stam van Náftali: Nagbi, die seun van Wofsi. Van die stam van Gad: Géhuel, die seun van Magi. Dit is die name van die manne wat Moses gestuur het om die land te verken; en Moses het Hoséa, die seun van Nun, Josua genoem. En Moses het hulle gestuur om die land Kanaän te verken en vir hulle gesê: Trek hier in die Suidland op en beklim die gebergte. En bekyk die land, hoe dit is, en die volk wat daarin woon, of dit sterk of swak, of dit min of baie is; en hoe die land is waar hulle in woon, of dit goed of sleg is; en hoe die stede is waar hulle in woon, laers of vestings; ook hoe die land is, of dit vet of skraal is, of daar bome in is of nie; en wees dapper en bring van die vrugte van die land saam. Dit was toe die tyd van die eerste druiwe. En hulle het opgetrek en die land verken van die woestyn Sin af tot by Rehob, na die ingang van Hammat — hulle het in die Suidland opgetrek en tot by Hebron gekom; en daar was Ahíman, Sesai en Talmai, die kinders van die Enakiete. En Hebron is sewe jaar voor Soan in Egipte gebou. Daarop het hulle tot by die dal Eskol gekom en daar 'n rank met een tros druiwe afgesny, en twee het dit aan 'n draagstok gedra; ook van die granate en van die vye. Dié plek het hulle die dal Eskol genoem vanweë die tros wat die kinders van Israel daar afgesny het.

Video for NÚMERI 13:1-24