Numeri 13:1-24

Numeri 13:1-24 DB

Die Here sê toe vir Moses: “Kies nou ’n leier uit elkeen van die twaalf stamme en stuur die twaalf om die land Kanaän ongemerk te gaan deurkyk, want dit is die land wat Ek vir die Israeliete gaan gee om in te bly.” Moses het toe die volgende leiers daar uit die Paranwoestyn Kanaän toe gestuur: Sammua, die seun van Sakkur uit die stam van Ruben Safat, die seun van Gori uit die stam van Simeon Kaleb, die seun van Jefunne uit die stam van Juda Jigal, die seun van Josef uit die stam van Issaskar Hosea, die seun van Nun uit die stam van Efraim Salti, die seun van Rafu uit die stam van Benjamin Gaddiël, die seun van Sodi uit die stam van Sebulon Gaddi, die seun van Susi uit die stam van Manasse, ’n Josefstam Ammiël, die seun van Gemalli uit die stam van Dan Setur, die seun van Migael uit die stam van Aser Nagbi, die seun van Wofsi uit die stam van Naftali Geüel, die seun van Maki uit die stam van Gad Dit is die manne wat Moses gestuur het om die land te gaan deurkyk. Moses het Nun se seun Hosea se naam na Josua verander. Moses het vir hulle gesê: “Gaan noord hiervandaan, deur die Negevwoestyn en dan al met die berge van Kanaän langs. Vind uit watter soort gebied dit is en hoeveel mense daar bly. Kyk of hulle hulleself sal kan verdedig as ons hulle sou aanval. Vind ook uit of dit goeie grondgebied is of nie. Kyk ook hoeveel van hulle stede versterkte mure het. Verder moet julle kyk of die gebied vrugbaar is en of dit bome het. Maak seker dat julle ook van die vrugte van die land vir ons saambring.” Dit was juis tyd vir die vroeë druiwe om ryp te word toe Moses hulle die land in gestuur het. Hulle is toe daar weg en het die hele land deurgegaan van die Sinaiwoestyn in die suide af tot by Regob in die noorde, naby Hamat. Hulle is toe deur die Negev. Die eerste plek waar hulle aangekom het, was Hebron, ’n stad wat reeds sewe jaar voor die Egiptiese stad Soan gebou is. Enak se afstammelinge, Agiman, Sesai en Tamai, het hier gebly. Daarna is hulle af na die Eskolvallei toe, waar hulle ’n tros druiwe afgesny het. Die tros was so groot dat twee van hulle dit moes dra terwyl dit aan ’n stok gehang het. Hulle het ook ’n klompie granate en vye saamgevat. Hulle het die plek Eskol, of “druiwetros”, genoem, omdat hulle so ’n groot tros druiwe daar afgesny het.

Video for Numeri 13:1-24