Numeri 13:1-24

Numeri 13:1-24 AFR20

Die HERE het met Moses gepraat en gesê: “Stuur vir jou manne uit sodat hulle die land Kanaän, wat Ek vir die Israeliete gaan gee, kan verken. Een man uit elk van die stamme van hulle voorouers, elkeen van hulle 'n leier, moet julle stuur.” Moses het hulle op bevel van die HERE uit die Paranwoestyn gestuur. Almal van hulle was manne wat leiers was onder die Israeliete. Dit was hulle name: Vir die stam van Ruben was dit Sammua, seun van Sakkur; vir die stam van Simeon was dit Safat, seun van Gori; vir die stam van Juda was dit Kaleb, seun van Jefunne; vir die stam van Issaskar was dit Jigal, seun van Josef; vir die stam van Efraim was dit Hosea, seun van Nun; vir die stam van Benjamin was dit Palti, seun van Rafu; vir die stam van Sebulon was dit Gaddiël, seun van Sodi; vir die stam van Josef, naamlik die stam van Manasse, was dit Gaddi, seun van Susi; vir die stam van Dan was dit Ammiël, seun van Gemalli; vir die stam van Aser was dit Setur, seun van Migael; vir die stam van Naftali was dit Nagbi, seun van Wofsi; vir die stam van Gad was dit Geüel, seun van Magi. Dit was die name van die manne wat Moses uitgestuur het om die land te verken. Moses het Hosea, seun van Nun, Josua genoem. Moses het hulle uitgestuur om die land Kanaän te verken. Hy het vir hulle gesê: “Trek hier in die Negev op, en gaan dan op in die bergwêreld. Bekyk die land: Hoe is dit? En die volk wat daarin woon, is dit 'n sterk of swak volk, is hulle min of baie? En hoe is die land waarin hulle woon? Is dit goed of sleg? En hoe is die dorpe waarin die volk woon? Woon hulle in kampe of in versterkte stede? En hoe is die grond? Is dit vrugbaar of skraal? Is daar bome of nie? Span julle in en bring van die land se vrugte saam.” Dit was toe net die tyd van die vroeë druiwe. Hulle het opgetrek en die land verken vanuit die Tsinwoestyn tot by Regob, by Lebo-Hamat. Hulle het opgetrek deur die Negev en Hebron bereik, waar Agiman, Sesai en Talmai, die afstammelinge van die Enakiete was. Hebron is sewe jaar voor Soan in Egipte gebou. Toe hulle die Eskoldal bereik, sny hulle daar 'n rank met een druiwetros wat twee van hulle met 'n draaghout gedra het, af, en ook van die granate en vye. Daardie plek is toe Eskoldal genoem, oor die druiwetros wat die Israeliete daar afgesny het.

Video for Numeri 13:1-24