JOHANNES 16:20-33
JOHANNES 16:20-33 Afrikaans 1983 (AFR83)
Dit verseker Ek julle: Julle sal huil en treur, maar die wêreld sal bly wees. Julle sal bedroef word, maar julle droefheid sal in blydskap verander. 'n Vrou kry swaar wanneer haar tyd gekom het en haar kindjie gebore word. Maar wanneer die kindjie gebore is, dink sy nie meer aan die pyn nie, so bly is sy dat daar 'n mens in die wêreld gekom het. Net so is julle ook nou bedroef, maar as Ek julle weer sien, sal julle harte vol blydskap wees, en niemand kan julle blydskap van julle af wegneem nie. Daardie dag sal julle nie meer vrae aan My stel nie. “Dít verseker Ek julle: Wat julle die Vader ook al in my Naam sal bid, sal Hy vir julle gee. Tot nou toe het julle nog nie in my Naam gebid nie. Bid, en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees.” “Dit het Ek deur beeldspraak vir julle gesê. Daar kom 'n tyd wanneer Ek nie meer deur beeldspraak met julle sal praat nie maar julle reguit van die Vader sal vertel. Van daardie dag af sal julle in my Naam bid en hoef Ek nie julle voorspraak by die Vader te wees nie, want die Vader self het julle lief, omdat julle My liefhet en glo dat Ek van God gekom het. Ek het van die Vader gekom en Ek is hier in die wêreld. Nou verlaat Ek weer die wêreld en Ek gaan na die Vader toe.” Sy dissipels sê toe: “Kyk, nou praat U reguit en gebruik nie beeldspraak nie. Nou weet ons dat U alles weet, en niemand hoef U verder uit te vra nie. Ons glo nou dat U van God gekom het.” Daarop sê Jesus vir hulle: “Glo julle nou? Kyk, daar kom 'n tyd, en dit is nou al hier, dat julle uitmekaar gejaag sal word, elkeen sy eie koers in, en dat julle My alleen sal laat; en tog is Ek nie alleen nie, omdat die Vader by My is. Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.”
JOHANNES 16:20-33 Bybel vir almal (ABA)
Ek sê vir julle, en dit is seker: Julle sal huil en treur, maar die mense van die wêreld sal bly wees. Julle sal eers hartseer wees, maar later sal julle nie meer hartseer wees nie, julle sal bly wees. Wanneer 'n vrou 'n kind kry, dan het sy pyn, want dit is die tyd wanneer haar baba moet kom. Maar wanneer die baba klaar gebore is, dan dink sy nie meer aan die pyn nie, want sy is bly dat sy ma geword het. Julle het ook nou pyn, maar wanneer Ek julle weer sien, dan sal julle bly wees. Dan sal niemand julle weer ongelukkig kan maak nie. “Daardie dag sal julle nie meer vir My iets vra nie. Ek sê vir julle, en dit is seker: Daardie dag kan julle vir die Vader enige iets vra omdat julle aan My behoort, en Hy sal dit vir julle gee. Julle mag enige iets vra omdat julle aan My behoort. Tot nou toe het julle nog niks gevra nie. Julle moet vra, en julle sal kry. Dan sal julle regtig baie bly wees. Voorheen het Ek voorbeelde gebruik wanneer Ek iets vir julle verduidelik het, maar daar sal 'n tyd kom wanneer Ek nie meer voorbeelde sal gebruik nie. Dan sal Ek vir julle reguit van die Vader vertel. Daardie dag sal julle self vir die Vader dinge vra, omdat julle aan My behoort. Ek sal dit nie vir die Vader vra nie, dit sal nie nodig wees nie. Die Vader self is lief vir julle, want julle is lief vir My en julle glo dat Ek van God kom. Ek het weggegaan van die Vader en Ek het na die mense van die wêreld toe gekom. Nou gaan Ek weer weg van die mense van die wêreld, Ek gaan terug na die Vader toe.” Die dissipels het vir Jesus gesê: “Nou praat U reguit. U gebruik nie voorbeelde nie. Nou weet ons dat U alles weet. Dit is nie nodig dat ons vir U vrae moet vra nie. Ons glo nou dat U van God kom.” Jesus het vir hulle gesê: “Julle sê julle glo nou, maar daar kom 'n tyd wanneer julle sal swaarkry. Daardie tyd is klaar hier. Die mense sal julle jaag na al die kante toe en julle sal na julle huise vlug. Julle sal My alleen los, maar Ek sal nie regtig alleen wees nie, want die Vader is by My. Ek sê dit alles vir julle sodat julle vrede kan hê omdat julle aan My behoort. Die mense van die wêreld sal julle laat swaarkry, maar julle moenie moedeloos word nie. Ek het die wêreld klaar oorwin.”
JOHANNES 16:20-33 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, julle sal ween en rou bedryf, maar die wêreld sal bly wees. En julle sal bedroef wees, maar julle droefheid sal in blydskap verander. 'n Vrou het droefheid wanneer sy baar, omdat haar uur gekom het; maar wanneer die kindjie gebore is, dink sy nie meer aan haar benoudheid nie, om die blydskap dat 'n mens in die wêreld gebore is. Julle het dan ook nou droefheid, maar Ek sal julle weer sien en julle hart sal bly word, en niemand neem julle blydskap van julle weg nie. En in daardie dag sal julle My niks vra nie. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, alles wat julle die Vader sal vra in my Naam, sal Hy julle gee. Tot nou toe het julle niks in my Naam gevra nie. Bid en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees. Hierdie dinge het Ek deur gelykenisse tot julle gespreek, maar daar kom 'n uur wanneer Ek nie meer deur gelykenisse tot julle sal spreek nie, maar julle openlik van die Vader sal vertel. In daardie dag sal julle in my Naam bid; en Ek sê nie vir julle dat Ek die Vader aangaande julle sal vra nie; want die Vader self het julle lief, omdat julle My liefgehad en geglo het dat Ek van God uitgegaan het. Ek het van die Vader uitgegaan en in die wêreld gekom. Weer verlaat Ek die wêreld en gaan na my Vader. Sy dissipels sê vir Hom: Kyk, nou spreek U ronduit en gebruik geen gelykenis nie. Nou weet ons dat U alles weet en nie nodig het dat iemand U iets vra nie. Daarom glo ons dat U van God uitgegaan het. Jesus antwoord hulle: Glo julle nou? Kyk, die uur kom en het nou gekom dat julle uitmekaar gejaag sal word, elkeen na sy eie toe, en My alleen sal laat; tog is Ek nie alleen nie, omdat die Vader met My is. Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.
JOHANNES 16:20-33 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Amen, amen, Ek sê vir julle: Julle sal huil en treur, maar die wêreld sal bly wees; julle sal hartseer wees, maar julle hartseer sal in blydskap verander. 'n Vrou ervaar pyn wanneer sy kraam, omdat haar tyd aangebreek het. Maar wanneer sy aan die kindjie geboorte skenk, onthou sy nie meer die swaarkry nie – uit blydskap dat 'n mens in die wêreld gekom het. Daarom ervaar julle nou ook pyn; maar Ek sal julle weer sien, en dan sal julle harte bly wees, en niemand sal julle blydskap wegneem nie. En op daardie dag sal julle My niks meer vra nie. Amen, amen, Ek sê vir julle: Wat julle die Vader in my Naam vra, sal Hy aan julle gee. Tot nou toe het julle niks in my Naam gevra nie. Vra, en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees. ” “Hierdie dinge het Ek deur gelykenisse vir julle gesê. Daar kom 'n tyd dat Ek nie meer deur gelykenisse met julle sal praat nie, maar julle openlik van die Vader sal vertel. Op daardie dag sal julle in my Naam bid. Daarmee sê Ek nie vir julle dat Ek tot die Vader vir julle sal bid nie; want die Vader self het julle lief, omdat julle My liefhet en glo dat Ek van God gekom het. Ek het van die Vader af gekom en in die wêreld ingegaan. Ek verlaat weer die wêreld en gaan terug na die Vader.” Sy dissipels sê toe: “Kyk, nou praat U openlik en vertel nie gelykenisse nie. Nou weet ons dat U alles weet, en dat niemand U nog hoef uit te vra nie. Daarom glo ons dat U van God af gekom het.” Jesus het hulle geantwoord: “Glo julle nou? Kyk, daar kom 'n uur, en dit het reeds aangebreek, dat julle uitmekaar gejaag sal word, elkeen na sy eie huis, en My alleen sal agterlaat. Ek is egter nie alleen nie, omdat die Vader by My is. Dit het Ek vir julle gesê, sodat julle in My vrede mag vind. In die wêreld ervaar julle swaarkry; maar hou moed, Ek het reeds die wêreld oorwin. ”
JOHANNES 16:20-33 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, julle sal ween en weeklaag, maar die wêreld sal bly wees; en julle sal bedroef wees, maar julle droefheid sal in blydskap verander word. 'n Vrou het droefheid as sy baar, want haar uur het gekom; maar sodra sy van die kind gebaar is, dink sy nie meer aan die angs nie, uit die vreugde dat 'n man in die wêreld gebore is. En julle het dan nou droefheid, maar Ek sal julle weer sien, en julle hart sal bly wees, en niemand neem julle blydskap van julle weg nie. En in dié dag sal julle My niks vra nie. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, alles wat julle die Vader in my Naam sal vra, sal Hy julle gee. Tot nou toe het julle niks in my Naam gevra nie; bid, en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees. Hierdie dinge het Ek tot julle gespreek in spreuke, maar die tyd kom wanneer Ek nie meer met julle in spreuke sal spreek nie, maar julle duidelik van die Vader sal verkondig. In dié dag sal julle in my Naam bid; en Ek sê nie vir julle dat Ek die Vader vir julle sal bid nie. Want die Vader self het julle lief, omdat julle My liefgehad het en geglo het dat Ek van God uitgegaan het. Ek het van die Vader uitgegaan en in die wêreld gekom; weer verlaat Ek die wêreld en gaan na die Vader. Sy dissipels sê vir Hom: Kyk, nou spreek U reguit en spreek geen spreekwoord nie. Nou is ons seker dat U alles weet en nie nodig het dat iemand U vra nie; hierdeur glo ons dat U van God uitgegaan het. Jesus antwoord hulle: Glo julle nou? Kyk, die uur kom, ja, dit is nou, dat julle verstrooi sal word, elkeen na sy eie toe, en My alleen sal laat; en tog is Ek nie alleen nie, want die Vader is met My. Hierdie dinge het Ek vir julle gesê, sodat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê, maar hou goeie moed; Ek het die wêreld oorwin.
JOHANNES 16:20-33 Die Boodskap (DB)
Laat Ek julle so ’n bietjie meer vertel. Dan sal julle beter verstaan. Julle gaan eers baie hartseer wees; so hartseer dat die trane oor julle wange gaan loop. Dan gaan die ongelowiges hande klap van blydskap. Maar julle gaan nie lank hartseer bly nie. Elke stukkie hartseer sal in ’n stuk blydskap en vreugde verander. Weet julle hoe dit gaan wees? Dit sal wees soos ’n vrou wat ’n baba kry. Terwyl sy besig is om die baba te kry, is dit baie seer. Maar as die baba eers eenmaal daar is, is sy die ene glimlag en blydskap oor haar kind. Sy dink nie eens weer aan al die pyn nie. Net so is dit met julle. Julle voel nou baie hartseer omdat Ek weggaan. Maar na ’n rukkie sal julle My weer sien. Dan sal daar geen keer wees aan julle blydskap nie. Niemand sal julle meer hartseer kan maak nie. Wanneer dit eers gebeur, sal van al julle vrae nie een meer oorbly nie. Luister mooi. Julle sal ander dinge begin vra. Wat julle ook al van my Vader vra om my saak in hierdie wêreld te bevorder, sal God vir julle gee. Tot nou toe het julle nog nooit so iets gevra nie. Neem vrymoedigheid en vra! Julle blydskap sal geen einde hê nie.” “Ek gebruik heelwat beelde om alles te verduidelik. Oor ’n ruk sal dit nie eens meer nodig wees nie. Ek sal sommer reguit vir julle kan sê wat Ek bedoel wanneer Ek oor my Vader praat. Julle sal dan ook reguit met die Vader kan praat omdat julle my vriende is. Ek sal dan nie meer nodig hê om allerhande dinge vir julle by die Vader te vra nie. Hy voel oor julle net soos Ek oor julle voel. Hy het julle lief. Hy voel so oor julle omdat julle my goeie vriende is. Julle het aanvaar dat Ek van God af kom. Dit is wat gebeur het: Ek het van my Vader af na julle mense toe gekom. Nou gaan Ek van julle af terug na my Vader toe.” “Nou praat U reguit, op die man af, sonder allerhande beelde,” sê sy volgelinge. “Ons besef al hoe meer hoeveel U weet. Ja-nee, wat daar te wete is, weet U. U hoef nie by ander mense te gaan aanklop nie. Watter beter bewys is daar dat U regtig van God af kom? Ons is in alle geval seker daarvan.” Jesus sê toe: “Is julle regtig so seker van julle saak? Oppas, die tyd kom nou vir My nader - wag, dit is eintlik nou al hier. Julle sal van skrik alles los en weghardloop. Sonder om links of regs te kyk sal julle net maak dat julle by die huis kom. En die ergste is, julle gaan My net so alleen los. Maar heeltemal alleen sal Ek nooit wees nie. My Vader is en bly altyd by My. Ek vertel hierdie dinge vir julle met ’n goeie rede. As my vriende kan julle maar rustig wees oor alles. Die ongelowiges sal alles wel vir julle probeer moeilik maak. Moenie dat hulle julle ontstel nie. Troos julle daaraan: Ek het bewys dat Ek sterker is as enigiets of enigiemand in hierdie wêreld. Ek en niemand anders nie is die regte Wenner.”
JOHANNES 16:20-33 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ek verseker julle, julle sal huil en treur, maar die wêreld sal juig. Julle sal baie hartseer wees, maar julle hartseer sal in blydskap verander. ’n Vrou het pyn wanneer sy geboorte skenk omdat haar tyd gekom het. Wanneer die baba egter gebore is, onthou sy nie meer die swaarkry nie vanweë die groot blydskap dat daar ’n mens in die wêreld gekom het. Julle ondervind ook nou hartseer. As Ek julle egter weer sien, sal julle harte oorloop van blydskap, en niemand sal dié blydskap weer van julle af wegneem nie. En op daardie dag sal julle My niks meer uitvra nie. Ek verseker julle, wat julle ook al van die Vader vra in my Naam, sal Hy aan julle gee. Tot nou toe het julle nog nie in my Naam gebid nie. Hou aan bid, en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volledig kan wees. “Dit het Ek met behulp van beeldspraak aan julle verduidelik. Daar kom ’n tyd wanneer Ek nie meer met behulp van beeldspraak met julle sal praat nie, maar openlik die Vader aan julle sal verkondig. Op daardie dag sal julle in my Naam bid. Ek sê nie dat Ek die Vader sal raadpleeg oor julle nie, want die Vader self het julle lief omdat julle My lankal reeds liefgehad het, en vas glo dat Ek van God af gekom het. Ek het van die Vader af gekom en bevind My nou in hierdie wêreld. Ek verlaat weer die wêreld en gaan terug na die Vader toe.” Sy dissipels sê toe: “Kyk, nou praat U openlik, en U doen dit sonder enige beeldspraak. Ons besef ook nou dat U alles weet en niemand hoef U verder uit te vra nie. Daardeur is ons oortuig dat U van God af gekom het.” Jesus het hulle geantwoord: “Glo julle nou? Kyk, daar kom ’n tyd, en dit het reeds aangebreek, dat julle uitmekaargedryf sal word, elkeen op sy eie, terwyl julle My alleen agterlaat. Tog is Ek nie alleen nie, omdat die Vader by My is. Ek sê hierdie dinge vir julle sodat julle in My rus en vrede kan vind. In die wêreld sal julle swaarkry beleef, maar skep moed: Ek het die wêreld reeds oorwin.”