JOHANNES 16:20-33

JOHANNES 16:20-33 AFR53

Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, julle sal ween en rou bedryf, maar die wêreld sal bly wees. En julle sal bedroef wees, maar julle droefheid sal in blydskap verander. 'n Vrou het droefheid wanneer sy baar, omdat haar uur gekom het; maar wanneer die kindjie gebore is, dink sy nie meer aan haar benoudheid nie, om die blydskap dat 'n mens in die wêreld gebore is. Julle het dan ook nou droefheid, maar Ek sal julle weer sien en julle hart sal bly word, en niemand neem julle blydskap van julle weg nie. En in daardie dag sal julle My niks vra nie. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, alles wat julle die Vader sal vra in my Naam, sal Hy julle gee. Tot nou toe het julle niks in my Naam gevra nie. Bid en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees. Hierdie dinge het Ek deur gelykenisse tot julle gespreek, maar daar kom 'n uur wanneer Ek nie meer deur gelykenisse tot julle sal spreek nie, maar julle openlik van die Vader sal vertel. In daardie dag sal julle in my Naam bid; en Ek sê nie vir julle dat Ek die Vader aangaande julle sal vra nie; want die Vader self het julle lief, omdat julle My liefgehad en geglo het dat Ek van God uitgegaan het. Ek het van die Vader uitgegaan en in die wêreld gekom. Weer verlaat Ek die wêreld en gaan na my Vader. Sy dissipels sê vir Hom: Kyk, nou spreek U ronduit en gebruik geen gelykenis nie. Nou weet ons dat U alles weet en nie nodig het dat iemand U iets vra nie. Daarom glo ons dat U van God uitgegaan het. Jesus antwoord hulle: Glo julle nou? Kyk, die uur kom en het nou gekom dat julle uitmekaar gejaag sal word, elkeen na sy eie toe, en My alleen sal laat; tog is Ek nie alleen nie, omdat die Vader met My is. Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.