Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, julle sal ween en weeklaag, maar die wêreld sal bly wees; en julle sal bedroef wees, maar julle droefheid sal in blydskap verander word.
'n Vrou het droefheid as sy baar, want haar uur het gekom; maar sodra sy van die kind gebaar is, dink sy nie meer aan die angs nie, uit die vreugde dat 'n man in die wêreld gebore is.
En julle het dan nou droefheid, maar Ek sal julle weer sien, en julle hart sal bly wees, en niemand neem julle blydskap van julle weg nie.
En in dié dag sal julle My niks vra nie. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, alles wat julle die Vader in my Naam sal vra, sal Hy julle gee.
Tot nou toe het julle niks in my Naam gevra nie; bid, en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees.
Hierdie dinge het Ek tot julle gespreek in spreuke, maar die tyd kom wanneer Ek nie meer met julle in spreuke sal spreek nie, maar julle duidelik van die Vader sal verkondig.
In dié dag sal julle in my Naam bid; en Ek sê nie vir julle dat Ek die Vader vir julle sal bid nie.
Want die Vader self het julle lief, omdat julle My liefgehad het en geglo het dat Ek van God uitgegaan het.
Ek het van die Vader uitgegaan en in die wêreld gekom; weer verlaat Ek die wêreld en gaan na die Vader.
Sy dissipels sê vir Hom: Kyk, nou spreek U reguit en spreek geen spreekwoord nie.
Nou is ons seker dat U alles weet en nie nodig het dat iemand U vra nie; hierdeur glo ons dat U van God uitgegaan het.
Jesus antwoord hulle: Glo julle nou?
Kyk, die uur kom, ja, dit is nou, dat julle verstrooi sal word, elkeen na sy eie toe, en My alleen sal laat; en tog is Ek nie alleen nie, want die Vader is met My.
Hierdie dinge het Ek vir julle gesê, sodat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê, maar hou goeie moed; Ek het die wêreld oorwin.