Johannes 16

16
1“Hierdie dinge het Ek vir julle gesê sodat julle nie sal struikel nie. 2Hulle sal julle uit die •sinagoges ban. Daar kom 'n tyd dat elkeen wat vir julle doodmaak, sal dink dat hy 'n diens aan God bewys. 3 En hulle sal dit doen, omdat hulle die Vader nie ken nie, en My ook nie. 4Maar hierdie dinge het Ek vir julle gesê, sodat wanneer hulle tyd aanbreek, julle kan onthou dat Ek dit vir julle gesê het.”
Werk van die Heilige Gees
“Ek het hierdie dinge nie van die begin af vir julle gesê nie, omdat Ek nog by julle was. 5Maar nou gaan Ek na Hom wat My gestuur het, en nie een van julle vra My, ‘Waarheen gaan U?’ nie. 6 Maar omdat Ek hierdie dinge vir julle gesê het, is julle harte vol droefheid. 7Ek vertel julle egter die waarheid: Dit is voordelig vir julle dat Ek weggaan. As Ek nie weggaan nie, sal die Parakleet nie na julle kom nie. As Ek egter weggaan, sal Ek Hom na julle stuur. 8En wanneer Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van •geregtigheid en van oordeel:
9“Van sonde,
omdat hulle nie in My glo nie;
10van geregtigheid,
omdat Ek na die Vader gaan
en julle My nie meer sal sien nie;
11van oordeel,
omdat die heerser van hierdie wêreld
reeds geoordeel is.
12“ Ek het nog baie dinge om vir julle te sê, maar julle kan dit nie nou verwerk nie. 13Maar wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die volle waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself praat nie, maar Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die toekomstige dinge aan julle bekend maak. 14Hy sal My verheerlik omdat Hy dit wat Hy van My sal ontvang, aan julle bekend sal maak. 15Alles wat die Vader het, is ook myne. Daarom het Ek gesê: Wat Hy van My ontvang, sal Hy ook aan julle bekend maak.”
Van hartseer na blydskap
16“ Nog net 'n kort tydjie, dan sien julle My nie meer nie, en weer 'n kort tydjie, en dan sal julle My weer sien.” 17Van sy dissipels het toe vir mekaar gesê: “Wat beteken dit wat Hy vir ons sê, ‘Nog net 'n kort tydjie, dan sien julle My nie meer nie, en weer 'n kort tydjie, en dan sal julle My weer sien’ en, ‘Ek gaan na die Vader’?” 18Hulle het daarom bly sê: “Wat is hierdie kort tydjie waarvan Hy praat? Ons verstaan nie wat Hy sê nie.” 19Jesus het geweet dat hulle dit vir Hom wou vra, en sê toe vir hulle: “Is dit waaroor julle mekaar uitvra, omdat Ek gesê het: Nog net 'n kort tydjie, dan sien julle My nie meer nie, en weer 'n kort tydjie, en dan sal julle My weer sien? 20Amen, amen, Ek sê vir julle: Julle sal huil en treur, maar die wêreld sal bly wees; julle sal hartseer wees, maar julle hartseer sal in blydskap verander. 21'n Vrou ervaar pyn wanneer sy kraam, omdat haar tyd aangebreek het. Maar wanneer sy aan die kindjie geboorte skenk, onthou sy nie meer die swaarkry nie – uit blydskap dat 'n mens in die wêreld gekom het. 22Daarom ervaar julle nou ook pyn; maar Ek sal julle weer sien, en dan sal julle harte bly wees, en niemand sal julle blydskap wegneem nie. 23En op daardie dag sal julle My niks meer vra nie. Amen, amen, Ek sê vir julle: Wat julle die Vader in my Naam vra, sal Hy aan julle gee. 24Tot nou toe het julle niks in my Naam gevra nie. Vra, en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees. ”
Oorwinning oor die wêreld
25“Hierdie dinge het Ek deur gelykenisse vir julle gesê. Daar kom 'n tyd dat Ek nie meer deur gelykenisse met julle sal praat nie, maar julle openlik van die Vader sal vertel. 26Op daardie dag sal julle in my Naam bid. Daarmee sê Ek nie vir julle dat Ek tot die Vader vir julle sal bid nie; 27want die Vader self het julle lief, omdat julle My liefhet en glo dat Ek van God gekom het. 28 Ek het van die Vader af gekom en in die wêreld ingegaan. Ek verlaat weer die wêreld en gaan terug na die Vader.” 29Sy dissipels sê toe: “Kyk, nou praat U openlik en vertel nie gelykenisse nie. 30Nou weet ons dat U alles weet, en dat niemand U nog hoef uit te vra nie. Daarom glo ons dat U van God af gekom het.” 31Jesus het hulle geantwoord: “Glo julle nou? 32Kyk, daar kom 'n uur, en dit het reeds aangebreek, dat julle uitmekaar gejaag sal word, elkeen na sy eie huis, en My alleen sal agterlaat. Ek is egter nie alleen nie, omdat die Vader by My is. 33Dit het Ek vir julle gesê, sodat julle in My vrede mag vind. In die wêreld ervaar julle swaarkry; maar hou moed, Ek het reeds die wêreld oorwin. ”

Tans Gekies:

Johannes 16: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid