Johannes 16:20-33

Johannes 16:20-33 AFR20

Amen, amen, Ek sê vir julle: Julle sal huil en treur, maar die wêreld sal bly wees; julle sal hartseer wees, maar julle hartseer sal in blydskap verander. 'n Vrou ervaar pyn wanneer sy kraam, omdat haar tyd aangebreek het. Maar wanneer sy aan die kindjie geboorte skenk, onthou sy nie meer die swaarkry nie – uit blydskap dat 'n mens in die wêreld gekom het. Daarom ervaar julle nou ook pyn; maar Ek sal julle weer sien, en dan sal julle harte bly wees, en niemand sal julle blydskap wegneem nie. En op daardie dag sal julle My niks meer vra nie. Amen, amen, Ek sê vir julle: Wat julle die Vader in my Naam vra, sal Hy aan julle gee. Tot nou toe het julle niks in my Naam gevra nie. Vra, en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees. ” “Hierdie dinge het Ek deur gelykenisse vir julle gesê. Daar kom 'n tyd dat Ek nie meer deur gelykenisse met julle sal praat nie, maar julle openlik van die Vader sal vertel. Op daardie dag sal julle in my Naam bid. Daarmee sê Ek nie vir julle dat Ek tot die Vader vir julle sal bid nie; want die Vader self het julle lief, omdat julle My liefhet en glo dat Ek van God gekom het. Ek het van die Vader af gekom en in die wêreld ingegaan. Ek verlaat weer die wêreld en gaan terug na die Vader.” Sy dissipels sê toe: “Kyk, nou praat U openlik en vertel nie gelykenisse nie. Nou weet ons dat U alles weet, en dat niemand U nog hoef uit te vra nie. Daarom glo ons dat U van God af gekom het.” Jesus het hulle geantwoord: “Glo julle nou? Kyk, daar kom 'n uur, en dit het reeds aangebreek, dat julle uitmekaar gejaag sal word, elkeen na sy eie huis, en My alleen sal agterlaat. Ek is egter nie alleen nie, omdat die Vader by My is. Dit het Ek vir julle gesê, sodat julle in My vrede mag vind. In die wêreld ervaar julle swaarkry; maar hou moed, Ek het reeds die wêreld oorwin. ”