Psalms 35:1-16

Psalms 35:1-16 DB

Here, baklei vir my teen hulle wat met my baklei. Veg teen hulle wat teen my veg. Kom help my teen mense wat my aanval. Keer daardie mense wat agter my aanloop om my tot ’n val te bring. Gee my weer nuwe moed! Sê hard en duidelik vir my: “Ek sal jou red.” Keer daardie spul wat my wil doodmaak. Loop bo-oor hulle. Gee dat al die rampe wat vir my beplan is, hulle tref. Laat hulle skaam kry oor wat hulle aanvang. Laat die mense wat wil hê ek moet val, terugsteier. Laat hulle rooi word van skaamte. U is so sterk, u engel kan hulle van die aarde afvee. Hulle sal soos kaf in die wind verdwyn wanneer U die dag ingryp. Daar moet vir hulle geen toekoms wees nie. Agtervolg hulle deur u engele. Slegte mense wil my sonder rede tot ’n val bring. Ek het niks aan hulle gedoen nie, maar hulle wil my vernietig. Laat ’n ramp hulle skielik tref sonder dat hulle mooi weet wat aan die gang is. Laat die rampe wat hulle vir ander mense beplan, oor hulle kom. Laat hulle self in die gat val wat hulle vir my gegrawe het. Ek is baie bly oor wat die Here doen. Ek sal opgewonde jubel omdat Hy my lewe red. Alles in my sal uitroep: “Daar is niemand soos die Here nie! Dis net U wat mense wat swak is in hulle nood red. U bevry hulle van mense wat baie sterker is as hulle. U help swak mense uit die kloue van ’n klomp diewe.” Die mense wat my wil seermaak, staan reg om leuens oor my te vertel. Hulle praat kwaad teen my. Hulle beskuldig my van ’n klomp goed waarvan ek niks weet nie. As ek vir hulle goed is, betaal hulle my terug met slegte dinge. Hulle wil my om elke hoek en draai bykom. Toe hulle siek was, was ek hartseer oor hulle lyding. Ek kon selfs nie eet nie. Ek het gevas. Die hele tyd het ek sonder ophou vir hulle gebid. Ek het hulle behandel soos my beste vriend, soos my broer. Ek het oor hulle gehuil soos ’n mens oor jou ma treur wanneer sy doodgaan. Ek was krom van hartseer. Noudat probleme my skielik onderkry, is daardie selfde klomp baie bly. Hulle span saam teen my. Almal van hulle het lekker oor my geskinder. Hulle het my verskriklik beledig. Hulle kry nie end nie. Toe ek struikel, het hulle daaroor gelag. Hulle gee niks vir my om nie. Hulle dreig my.