Psalms 35:1-16

Psalms 35:1-16 AFR20

Van Dawid. Voer 'n regstryd, HERE, teen dié wat my aankla, veg teen dié wat met my veg. Neem 'n klein- en 'n grootskild, en staan op om my te help. Trek die spies en lans uit, om my vervolgers tegemoet te gaan. Sê vir my: “Ek is jou verlossing!” Laat hulle wat my lewe soek, beskaamd en verneder staan, laat hulle wat kwaad teen my beplan, terugdeins en verleë staan. Laat hulle soos kaf voor die wind wees, terwyl die •Engel van die HERE hulle wegvee. Laat hulle pad donker en glibberig wees, terwyl die Engel van die HERE hulle agtervolg. Hulle het immers sonder rede in die geheim vir my hulle vangnet gespan, sonder rede vir my 'n vanggat gegrawe. Laat teenspoed oor hulle kom sonder dat hulle dit weet, en die net wat hulle gespan het – laat dit hulle vang. Deur teenspoed moet hulle daarin val. Ek sal dan juig in die HERE, ek sal jubel oor sy verlossing. My hele wese sal sê: “HERE, wie is soos U, wat die magtelose red van dié wat sterker as hy is, ja, die magtelose en behoeftige van dié wat hom beroof?” Gewelddadige getuies staan op, oor iets waarvan ek niks weet nie, ondervra hulle my. Hulle vergeld my met kwaad vir goed; ek is stoksielalleen. Maar ek het, toe hulle siek was, rouklere aangetrek; ek het myself gefolter deur te vas. Toe my gebed na my teruggekeer het, was ek rusteloos asof dit 'n vriend, my •broer, was. Soos iemand wat oor 'n moeder treur, was ek geboë en in rouklere. Maar toe ek struikel, was hulle verheug en het saamgedrom; aanvallers het teen my saamgedrom sonder dat ek dit besef, hulle het my sonder ophou uitmekaargeskeur. Hulle toets my, hulle spot my met minagting, hulle kners op hulle tande vir my.