Psalms 119:113-176

Psalms 119:113-176 AFR20

Dubbelhartige mense haat ek, maar u wet het ek lief. My skuilplek en my skild is U; op u woord vestig ek my hoop. Gaan weg van my, julle kwaaddoeners, sodat ek by die gebooie van my God kan hou. Ondersteun my, volgens u woord, sodat ek kan lewe; laat my nie beskaamd staan oor my hoop nie. Onderskraag my, sodat ek verlos kan word; ek wil voortdurend aan u voorskrifte aandag gee. U verwerp almal wat dwaal, weg van u voorskrifte af; want hulle bedrog is misleidend. Soos metaalskuim verwyder U al die goddeloses van die aarde; daarom het ek u bepalings lief. My lyf bewe omdat U vrees inboesem; ja, vir u beslissings is ek vol ontsag. Ek doen wat billik en reg is; moet my nie aan my verdrukkers oorlaat nie. Waarborg die goeie vir u dienskneg; vermeteles moet my nie verdruk nie. My oë smag na u verlossing, na u belofte van •geregtigheid. Handel met u dienskneg volgens u troue liefde, en leer my u voorskrifte. Ek is u dienskneg; gee aan my insig sodat ek u bepalings kan ken. Dit is tyd vir die HERE om op te tree – hulle maak u wet kragteloos. Daarom het ek u bevele lief, ja, meer as goud, as suiwer goud. Daarom volg ek alle opdragte oor alles; elke pad van bedrog haat ek. U bepalings is wonderlik; daarom hou ek daarby. As u woorde oopgaan, gee dit lig; dit gee insig aan onkundiges. Met 'n oop mond hyg ek, want ek hunker na u gebooie. Draai na my en wees my genadig, soos U gewoonlik maak met hulle wat u Naam liefhet. Maak my treë ferm met u woord en laat geen onreg oor my heers nie. Bevry my van onderdrukking deur mense, sodat ek u opdragte kan nakom. Laat die lig van u aangesig oor u dienskneg skyn, en leer my u voorskrifte. Strome water vloei uit my oë, omdat mense nie u wet nakom nie. Regverdig is U, HERE, en u beslissings is reg. U het in •geregtigheid u bepalings uitgevaardig, en in goeie trou. My ywer verteer my omdat my teenstanders u woorde vergeet. U woord is volkome gelouter en u dienskneg het dit lief. Ek is klein en word geminag, maar u opdragte vergeet ek nie. U geregtigheid is regverdig vir ewig en u wet is betroubaar. Benoudheid en angs het my oorval, maar u gebooie is my vreugde. U bepalings is regverdig vir ewig; gee my insig, sodat ek kan lewe. Ek roep met my hele hart: “Antwoord my, HERE, u voorskrifte wil ek onderhou!” Ek roep na U: “Verlos my sodat ek u bepalings kan nakom!” Voor die oggendskemer roep ek al om hulp; op u woorde wag ek. Met oop oë gaan ek elke nagwaak in, sodat ek oor u woord kan nadink. Luister tog in u troue liefde na my stem, HERE, hou my lewend volgens u beslissing. Mense wat slinkse planne najaag, kom nader; hulle bly ver van u wet. Maar U, HERE, is naby, en al u gebooie is betroubaar. Uit u bepalings weet ek lank reeds dat U dit vir ewig gevestig het. Sien tog my ellende raak en red my, want u wet vergeet ek nie. Behartig my regsaak en verlos my; hou my lewend op grond van u belofte. Verlossing bly ver van goddeloses, want hulle streef nie u voorskrifte na nie. U ontferming is groot, HERE; hou my lewend volgens u beslissings. My agtervolgers en teenstanders is baie, maar van u bepalings wyk ek nie af nie. Ek het ontroues gesien en dit het my met weersin vervul dat hulle u woord nie onderhou nie. Sien tog raak dat ek u opdragte liefhet, HERE, maak my lewend in ooreenstemming met u troue liefde. Die wese van u woord is betroubaarheid, en elkeen van u regverdige beslissings is vir ewig. Leiers vervolg my sonder rede, maar net vir u woord het my hart 'n heilige vrees. Ek verheug my oor u woord, soos iemand wat 'n groot buit gevind het. Ek haat en verafsku valsheid, maar u wet het ek lief. Sewe keer per dag loof ek U oor u regverdige beslissings. Groot vrede is daar vir hulle wat u wet liefhet; vir hulle is daar geen struikelblokke nie. Ek vestig my hoop op u verlossing, HERE, en ek voer u bevele uit. Ek kom u bepalings na; ja, ek het dit baie lief. Ek kom u opdragte en u bepalings na, want al my paaie lê oop voor U. Laat my klaagroep voor U kom, HERE; gee my insig ooreenkomstig u woord. Laat my smeekgebed U bereik, red my volgens u belofte. My lippe laat lofprysing uitstroom, want U leer my u voorskrifte. My tong besing u woord, want al u gebooie is regverdig. Laat u hand my te hulp kom, want ek verkies u opdragte. Ek verlang na u verlossing, HERE; u wet is my vreugde. Hou my lewend sodat ek U kan loof en laat u beslissings my help. Ek dwaal rond soos 'n verlore skaap; soek tog u dienskneg. U gebooie vergeet ek immers nie.