Ek haat besluitelose mense,
maar u gebooie het ek lief.
U is my toevlug
en beskermer;
ek vertrou op u woord.
Gaan weg van my,
kwaaddoeners,
want ek gehoorsaam
die gebooie van my God.
Hou my staande
soos U beloof het
sodat ek kan lewe.
Laat my nie beskaam wees
in my hoop nie.
Ondersteun my
en ek sal gered word;
ek sal u voorskrifte
altyd eerbiedig.
U verwerp almal
wat van u voorskrifte afwyk.
Hulle ontrou lei tot selfbedrog.
Al die bose mense
van die aarde
is soos skuim wat U afskep;
daarom het ek u waarskuwings
lief.
Ek bewe van vrees vir U;
ek vrees u oordeel.
Moenie my oorlaat
aan die genade
van my vyande nie,
ek het gedoen wat reg
en regverdig is.
Beloof tog
dat dit goed sal gaan
met u dienaar.
Moenie dat verwaande mense
my verdruk nie.
Ek ooreis my oë
om u redding te sien
en u woord van geregtigheid.
Behandel u dienaar
volgens u troue liefde,
en leer my u voorskrifte.
Ek is u dienaar;
gee my die vermoë
om te onderskei
sodat ek u voorwaardes
kan verstaan.
Dis tyd dat U optree, HERE,
want hulle het u gebooie
oortree.
Daarom is ek lief
vir u opdragte,
meer as goud,
selfs die fynste goud.
Omdat elkeen van u bevele
reg is,
haat ek elke verkeerde pad.
U voorwaardes is wonderlik;
daarom gehoorsaam ek hulle.
Begrip van u woord bring lig;
dit gee insig
aan die eenvoudige.
My mond is oop
en ek snak na asem,
want ek verlang
na u gebooie.
Kyk tog na my in u genade,
soos U doen vir almal
wat u Naam liefhet.
Rig my treë
deur u woord
sodat boosheid
my nie oorval nie.
Red my
van menslike verdrukking
sodat ek u bevele
kan gehoorsaam.
Laat u guns
oor u dienaar skyn;
leer my al u voorskrifte.
Trane vloei in strome
oor my wange
omdat mense u gebooie minag.
HERE, U is regverdig,
en u oordele is reg.
U vereistes is regverdig;
dit is baie betroubaar.
My ontsteltenis oorweldig my,
want my vyande
verontagsaam u woorde.
U beloftes is deeglik beproef;
u dienaar het dit lief.
Al is ek gering en verag,
ek misken nie u bevele nie.
U regverdigheid
duur vir altyd,
en u gebooie is betroubaar.
Angs en benoudheid
sak op my toe,
maar u gebooie is my vreugde.
U vereistes is altyd regverdig;
gee my insig
sodat ek kan lewe.
Ek roep tot U
met my hele hart;
antwoord my tog, HERE!
U voorskrifte
sal ek gehoorsaam.
Ek roep na U:
Red my,
en ek sal u vereistes
gehoorsaam.
Voor dagbreek
roep ek om hulp,
en plaas my hoop op u woord.
Die hele nag lê ek wakker
om u woord te oordink.
Luister na my roepstem,
HERE,
op grond van u troue liefde.
Laat my lewe
op grond van u regverdigheid.
Sluwe vervolgers
kom al nader,
maar lewe ver van u gebooie af.
Maar U is naby, HERE,
en al u gebooie is betroubaar.
Van lankal af het ek geweet
dat u eise nooit verander nie.
Kyk tog na my lyding en red my;
u gebooie
het ek tog nie vergeet nie.
Behartig tog my saak
en bevry my!
Laat ek lewe soos U beloof het.
Bose mense
is ver van redding,
want hulle steur hulle nie
aan u voorskrifte nie.
Groot is u barmhartigheid,
HERE!
Hou my lewe in stand
volgens u bepalings.
My vervolgers en vyande
is talryk;
tog wyk ek nie af van u eise nie.
Ek kyk met afkeer
na die ontroues,
want hulle misken u woord.
Sien raak dat ek u bevele liefhet,
HERE.
Laat my lewe
op grond van u liefde.
Alles wat U sê, is betroubaar;
u regverdige bepalings is vir altyd.
Heersers vervolg my
sonder oorsaak,
maar al wat ek vrees,
is u woord.
Ek verheug my
in u woord
soos iemand
wat ’n groot skat ontdek.
Alle valsheid haat
en verafsku ek,
maar u gebooie het ek lief.
Ek loof U sewe keer per dag
omdat al u bepalings
regverdig is.
Hulle wat u gebooie liefhet,
het groot sekuriteit
en niks sal hulle laat struikel nie.
Ek sien uit na u redding,
HERE;
daarom voer ek u gebooie uit.
Ek het u eise gehoorsaam,
en het dit baie lief.
Ek gehoorsaam u bevele
en eise,
want U weet van alles
wat ek doen.
HERE, luister na my geroep;
gee vir my insig
soos U beloof het.
Luister tog
na my smeekgebed;
red my soos U beloof het.
Laat my lippe uitbreek
met lof,
want U het my
u voorskrifte geleer.
Laat my tong sing
oor u woord,
want u bepalings is regverdig.
Mag U gereed wees
om my te help,
want u bevele
het ek eerste gestel.
HERE, ek het verlang
na u redding,
en u gebooie is my vreugde.
Laat my lewe
sodat ek U kan prys,
en mag u bepalings
my ondersteun.
Soos ’n verlore skaap
het ek gedwaal;
kom en soek my tog,
want u gebooie
het ek nie vergeet nie.