Esegiël 32:1-16

Esegiël 32:1-16 AFR20

In die twaalfde jaar, in die twaalfde maand, op die eerste dag van die maand, het die woord van die HERE tot my gekom: “Mensekind, hef 'n treurlied aan oor die farao, die koning van Egipte, en sê vir hom, ‘Jy was soos 'n jong leeu onder die nasies; jy was soos 'n krokodil in die waters. Jy het in jou riviere ingestorm, jy het die water troebel gemaak met jou pote, jy het hulle strome modderig gemaak. “ ‘So sê my Heer, die HERE: “Ek sal my vangnet oor jou gooi in die byeenkoms van baie volke, en hulle sal jou optrek in my sleepnet. Ek sal jou op die grond laat lê, jou in die oop veld weggooi. Ek sal sorg dat al die voëls van die hemel hulle op jou tuismaak; Ek sal die diere van die hele aarde versadig maak van jou. Ek sal jou vleis op die berge neersit. Ek sal die valleie vul met jou oorskiet. Ek sal die aarde tot by die berge deurdrenk met jou bloed wat vloei. Die stroombeddings sal vol wees van jou. Wanneer Ek jou uitdoof, sal Ek die hemelruim oordek; Ek sal sy sterre laat verdonker; die son sal Ek met wolke bedek en die maan sal nie sy lig laat skyn nie. Al die ligbronne aan die hemelruim sal Ek bo jou laat verdonker. Ek sal duisternis oor jou land bring.” Dit is die uitspraak van my Heer, die HERE.’ “ ‘ “Ek sal die harte van baie volke ontstel wanneer Ek jou krygsgevangenes by die nasies uitbring, na lande wat jy nie geken het nie. Ek sal baie volke oor jou verbyster laat; hulle konings sal onbedaarlik sidder oor jou wanneer Ek my swaard voor hulle swaai. Hulle sal die hele tyd bewe, elkeen uit vrees vir sy lewe op die dag van jou val. Ja,” so sê my Heer, die HERE, “die swaard van die koning van Babilonië gaan jou bereik. Deur die swaarde van krygsmanne laat Ek jou hordes val; hulle is die gewelddadigstes van nasies, hulle almal. Hulle sal die trots van Egipte geweld aandoen; al sy hordes sal uitgedelg word. Ek sal al sy vee laat verdwyn langs baie water. Die voet van 'n mens sal dit nie weer troebel maak nie; die hoewe van vee sal dit nie troebel maak nie. Dan sal Ek hulle waters helder maak, hulle riviere soos olie laat vloei.” Dit is die uitspraak van my Heer, die HERE.’ “ ‘ “Wanneer Ek die land Egipte 'n woesteny maak, en die land verlate lê van alles wat daarin was, wanneer Ek al die inwoners daarin neervel, sal hulle besef dat Ek die HERE is. Dit is 'n treurlied, en hulle sal dit sing, die dogters van die nasies sal dit sing, oor Egipte en al sy hordes sal hulle dit sing.” Dit is die uitspraak van my Heer, die HERE.’ ”