ESEGIËL 32:1-16
ESEGIËL 32:1-16 Bybel vir almal (ABA)
Die Here het met my gepraat. Dit was die twaalfde jaar, in die twaalfde maand, op die eerste dag van die maand. Ek het gehoor die Here sê vir my: “Mens, jy moet 'n klaaglied sing oor die farao, die koning van Egipte. Jy moet vir hom sê: “Jy het gedink jy is 'n leeu tussen die volke, maar Ek het jou stilgemaak. Jy was soos die watermonster, jy het in jou waterstrome rondgetrap, jy het die water vuil en vol modder gemaak met jou pote, jy het die waterstrome vuil gemaak.” Die Here, Hy wat Here is, sê: “Ek sal my vangnet oor jou gooi en Ek sal baie volke bymekaar laat kom. Hulle sal jou vang en optrek in my vangnet en Ek sal jou uitgooi op die grond. Ek sal jou in die oop veld gooi en Ek sal sê al die voëls moet op jou kom sit. Ek sal vir al die diere van die aarde sê hulle moet jou eet totdat hulle vol is. Ek sal jou vleis op die berge neersit en Ek sal die valleie volmaak met die stukke wat oorgebly het van jou. Jou bloed sal op die berge uitvloei, en Ek sal die aarde nat laat word met jou bloed, die waterslote sal vol bloed word. Wanneer Ek jou laat sterf, dan sal Ek die lug toemaak en Ek sal die sterre donker laat word. Ek sal die son met 'n wolk toemaak, en die maan sal nie meer sy lig laat skyn nie. Ek sal al die sterre donker laat word, die sterre wat in die lug skyn, en Ek sal dit donker maak in jou land.” Dit het die Here gesê, Hy wat Here is. “Ek sal baie volke hartseer en ontsteld maak wanneer Ek jou by die volke stukkend breek in lande wat jy nie ken nie. Ek sal baie volke groot laat skrik oor wat met jou gebeur. Hulle konings sal bewe oor jou wanneer Ek my swaard voor hulle swaai. Hulle almal sal aanhou bewe op die dag wanneer jy sterf.” Ja, die Here, Hy wat Here is, sê: “Die swaard van die koning van Babel sal na jou toe kom. Ek sal jou baie soldate laat doodmaak. Ek sal manne stuur wat goed oorlog kan maak. Hulle almal is wrede mense, hulle sal alles verwoes waarop Egipte trots is, hulle sal al Egipte se soldate doodmaak. Ek sal al die diere van Egipte laat verdwyn, die diere by die baie water. 'n Mens se voet of 'n dier se poot sal nie weer die water vuil maak nie. Dan sal Ek die water weer stil laat word, die riviere sal soos strome olyf-olie vloei. Ek sal Egipte 'n land maak waar niemand kan woon nie en Ek sal alles wegvat wat in die land is. Ek sal almal laat sterf wat in die land woon, dan sal hulle weet dat Ek die Here is. Hierdie lied is 'n klaaglied. Die vroue van die volke moet dit sing. Hulle moet 'n klaaglied sing oor die farao en al sy soldate.” Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.
ESEGIËL 32:1-16 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN in die twaalfde jaar, in die twaalfde maand, op die eerste van die maand, het die woord van die HERE tot my gekom en gesê: Mensekind, hef 'n klaaglied aan oor Farao, die koning van Egipte, en sê vir hom: Jong leeu onder die volke, verlore is jy! En jy was soos 'n draak in die groot water, en jy het uitgebreek in jou strome en die waters geroer met jou pote en die strome daarvan troebel gemaak. So sê die Here HERE: So sal Ek dan my net oor jou uitsprei deur 'n vergadering van baie volke, en hulle sal jou optrek in my vangnet. Dan sal Ek jou neerwerp op die land, jou wegslinger op die oop veld; en Ek sal al die voëls van die hemel op jou laat sit en die wilde diere van die hele aarde aan jou versadig. En Ek sal jou vlees weggee op die berge en die dale vol maak met jou hoogheid. En Ek sal jou stroomland natmaak met jou bloed tot by die berge; en die klowe sal vol word van jou. En as Ek jou uitblus, sal Ek die hemel oordek en sy sterre verdonker; Ek sal die son met wolke oordek, en die maan sal sy lig nie laat skyn nie. Al die skynende ligte aan die hemel, dié sal Ek om jou ontwil duister maak, en Ek sal duisternis gee oor jou land, spreek die Here HERE. En Ek sal die hart van baie volke bekommerd maak as Ek jou verbreking onder die nasies uitbring, na lande wat jy nie geken het nie. En Ek sal maak dat baie volke oor jou verstom staan en hulle konings sal oor jou gril van skrik as Ek my swaard voor hulle swaai; en hulle sal elke oomblik sidder, elkeen vir sy lewe, op die dag van jou val. Want so sê die Here HERE: Die swaard van die koning van Babel sal oor jou kom. Ek sal jou menigte laat val deur swaarde van helde — die geweldigste nasies, hulle almal; en hulle sal die prag van Egipte verwoes, en sy hele menigte sal verdelg word. En Ek sal al sy vee laat omkom by die groot waters; en geen mensevoet sal dit weer laat roer nie en geen dier se kloue dit troebel maak nie. Dan sal Ek hulle waters laat besink en hulle riviere laat vloei soos olie, spreek die Here HERE. As Ek Egipteland 'n wildernis maak en die land woes lê, van sy volheid beroof, as Ek almal wat daarin woon, verslaan het, dan sal hulle weet dat Ek die HERE is. 'n Klaaglied is dit, en hulle moet dit sing; die dogters van die nasies moet dit sing; hulle moet dit sing oor Egipte en oor sy hele menigte, spreek die Here HERE.
ESEGIËL 32:1-16 Afrikaans 1983 (AFR83)
Op die eerste van die twaalfde maand, in die twaalfde jaar, het die woord van die Here tot my gekom: “Mens, sing 'n treurlied oor die farao, koning van Egipte. Jy moet oor hom sê: “Jy was soos 'n leeu onder die nasies, maar jy is tot swye gebring. Jy was soos die groot monster in die see, jy het jou rivierwaters laat kook, die waters troebel gemaak met jou voete, die riviere modderig laat word.” So sê die Here my God: “Tussen die baie nasies wat saamgekom het, gooi Ek my vangnet oor jou, en hulle trek jou op in my net. Ek gooi jou op die grond, Ek slinger jou die veld in, Ek laat al die voëls op jou kom sit, Ek laat die roofdiere hulle vol vreet aan jou. Ek sit jou vleis op die berge neer, Ek maak die valleie daarmee vol. Met jou bloed wat op die berge uitgeloop het, deurweek Ek die grond; selfs die spruite word vol van jou bloed. Wanneer Ek jou tot niet maak, maak Ek die hemel toe en laat Ek die sterre se lig nie deurkom nie, Ek maak die son toe met 'n wolk, en die maan sal nie skyn nie. Ek laat al die hemelliggame treur oor jou en maak dit donker op die aarde, sê die Here my God. “Wanneer Ek jou ondergang bekend laat word onder nasies in lande waarvan jy nie eens geweet het nie, sal Ek al die volke ontsteld laat raak. Ek laat al die volke verskrik staan oor wat met jou gebeur; hulle konings se hare sal rys oor wat met jou gebeur wanneer Ek voor hulle oë my swaard swaai. Hulle sal sidder van angs oor hulle eie lewens dié dag wanneer jy tot 'n val kom.” So sê die Here my God: “Die koning van Babel se swaard is in aantog teen jou: Ek laat jou hordes val voor die aanslag van sy soldate, almal wrede mense; hulle sal die trots van Egipte vernietig, sy hele leër sal uitgeroei word. Ek roei al sy vee uit daar langs die baie water. Die water sal nie meer geroer word deur die voet van 'n mens of modderig gemaak word deur vee se pote nie. Dan sal Ek die water weer helder laat word en Egipte se strome so rustig laat vloei soos strome olie,” sê die Here my God. “Wanneer Ek Egipte 'n verlate land maak, hom stroop van wat in hom is, wanneer Ek al sy inwoners laat omkom, sal hulle besef dat Ek die Here is. Dit is die treurlied wat gesing sal word; die vroue van ander nasies sal dit sing, hulle sal dit sing oor Egipte en al sy hordes,” sê die Here my God.
ESEGIËL 32:1-16 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
In die twaalfde jaar, in die twaalfde maand, op die eerste dag van die maand, het die woord van die HERE tot my gekom: “Mensekind, hef 'n treurlied aan oor die farao, die koning van Egipte, en sê vir hom, ‘Jy was soos 'n jong leeu onder die nasies; jy was soos 'n krokodil in die waters. Jy het in jou riviere ingestorm, jy het die water troebel gemaak met jou pote, jy het hulle strome modderig gemaak. “ ‘So sê my Heer, die HERE: “Ek sal my vangnet oor jou gooi in die byeenkoms van baie volke, en hulle sal jou optrek in my sleepnet. Ek sal jou op die grond laat lê, jou in die oop veld weggooi. Ek sal sorg dat al die voëls van die hemel hulle op jou tuismaak; Ek sal die diere van die hele aarde versadig maak van jou. Ek sal jou vleis op die berge neersit. Ek sal die valleie vul met jou oorskiet. Ek sal die aarde tot by die berge deurdrenk met jou bloed wat vloei. Die stroombeddings sal vol wees van jou. Wanneer Ek jou uitdoof, sal Ek die hemelruim oordek; Ek sal sy sterre laat verdonker; die son sal Ek met wolke bedek en die maan sal nie sy lig laat skyn nie. Al die ligbronne aan die hemelruim sal Ek bo jou laat verdonker. Ek sal duisternis oor jou land bring.” Dit is die uitspraak van my Heer, die HERE.’ “ ‘ “Ek sal die harte van baie volke ontstel wanneer Ek jou krygsgevangenes by die nasies uitbring, na lande wat jy nie geken het nie. Ek sal baie volke oor jou verbyster laat; hulle konings sal onbedaarlik sidder oor jou wanneer Ek my swaard voor hulle swaai. Hulle sal die hele tyd bewe, elkeen uit vrees vir sy lewe op die dag van jou val. Ja,” so sê my Heer, die HERE, “die swaard van die koning van Babilonië gaan jou bereik. Deur die swaarde van krygsmanne laat Ek jou hordes val; hulle is die gewelddadigstes van nasies, hulle almal. Hulle sal die trots van Egipte geweld aandoen; al sy hordes sal uitgedelg word. Ek sal al sy vee laat verdwyn langs baie water. Die voet van 'n mens sal dit nie weer troebel maak nie; die hoewe van vee sal dit nie troebel maak nie. Dan sal Ek hulle waters helder maak, hulle riviere soos olie laat vloei.” Dit is die uitspraak van my Heer, die HERE.’ “ ‘ “Wanneer Ek die land Egipte 'n woesteny maak, en die land verlate lê van alles wat daarin was, wanneer Ek al die inwoners daarin neervel, sal hulle besef dat Ek die HERE is. Dit is 'n treurlied, en hulle sal dit sing, die dogters van die nasies sal dit sing, oor Egipte en al sy hordes sal hulle dit sing.” Dit is die uitspraak van my Heer, die HERE.’ ”
ESEGIËL 32:1-16 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En in die twaalfde jaar, in die twaalfde maand, op die eerste dag van die maand, het die woord van die HERE tot my gekom en gesê: Mensekind, hef 'n klaaglied aan oor Farao, die koning van Egipte, en sê vir hom: Jy is soos 'n jong leeu van die nasies, en jy is soos 'n walvis in die see; en jy het uitgekom met jou riviere en die waters met u voete en hulle riviere besoedel. So sê die HERE HERE; Daarom sal Ek my net oor jou uitsprei met 'n menigte van baie mense; en hulle sal jou in my net laat optrek. Dan sal Ek jou op die land laat, Ek sal jou uitwerp op die oop veld en al die voëls van die hemel op jou laat bly, en Ek sal die diere van die hele aarde met jou vul. En Ek sal jou vlees op die berge lê en die valleie vul met jou hoogte. En Ek sal die land waarin jy geswem het met jou bloed natmaak, tot by die berge; en die riviere sal vol wees van jou. En as Ek jou uitdryf, sal Ek die hemel bedek en sy sterre verduister; Ek sal die son met 'n wolk bedek, en die maan sal sy lig nie gee nie. Al die helder ligte van die hemel sal Ek oor jou donker maak en duisternis oor jou land laat lê, spreek die HERE HERE. Ek sal ook die harte van baie volke kwel as Ek jou ondergang onder die nasies bring in die lande wat jy nie geken het nie. Ja, Ek sal baie volke oor jou verstom maak, en hulle konings sal vir jou verskriklik bang wees as Ek my swaard voor hulle uitswaai; en hulle sal elke oomblik bewe, elkeen vir sy eie lewe, op die dag van jou val. Want so sê die HERE HERE: Die swaard van die koning van Babel sal oor jou kom. Deur die swaarde van die helde sal Ek jou menigte laat val, die vreeslike van die nasies, hulle almal; Ek sal ook al sy diere van langs die groot waters uitroei; en die voet van die mens sal hulle nie meer hinder nie, en die kloue van die vee sal hulle nie meer lastig val nie. Dan sal Ek hulle waters diep maak en hulle riviere soos olie laat loop, spreek die HERE HERE. Wanneer Ek Egipteland 'n wildernis maak en die land ontbloot van dit waarvan dit vol was, as Ek almal wat daarin woon, sal verslaan, dan sal hulle weet dat Ek die HERE is. Dit is die klaaglied waarmee hulle haar sal beklaag: die dogters van die nasies sal haar beklaag; hulle sal oor haar rou, oor Egipte en oor sy hele menigte, spreek die HERE HERE.
ESEGIËL 32:1-16 Die Boodskap (DB)
Op die derde Maart 585 v.C., toe koning Jojagin al twaalf jaar lank ’n gevangene in ’n vreemde land was, het die Here vir my gesê: “Mens, huil oor die farao, die koning van Egipte. Sê vir hom: Jy dink jy is soos ’n sterk jong leeu. Jy is só trots as jy tussen die ander nasies is. Maar weet jy wat jy eintlik is? Jy is eintlik maar net ’n seemonster wat in ’n rivier beland het. En al wat jy regkry, is om modder op te skop. “Daarom stuur Ek baie mense om teen jou te baklei,” sê die Here, Esegiël se God. “Hulle sal jou in hulle nette injaag en jou uit die water sleep. Dan sal Ek jou daar op die strand laat lê. Jy sal daar doodgaan. Al die voëls sal op jou karkas kom sit. En die wilde diere sal aan jou kom vreet. Ek maak dat jy op die berge lê, en dat jou bene in die valleie rondlê. Ek maak die aarde nat met jou bloed, tot by die berge. Jou bloed sal die valleie vol loop. Die dag as Ek jou van die aarde afvee en jou doodmaak, sal Ek sorg dat die sterre donker word. Die wolke sal voor die son inskuif. En die maan sal donker wees. Ja, die hele wêreld sal donker word, oor die hele Egipte. Selfs die helderste sterre bokant jou sal donker wees. Want Ek, die Here, die God van Esegiël, beveel dat dit moet gebeur. “Ek sal die mense wat in jou oorbly na ver lande laat wegvat as gevangenes. Mense sal nie glo wat met jou gebeur het nie. Hulle sal wit geskrik wees as Ek jou vernietig. Ja, Ek maak dat mense oor die hele wêreld bleek sal word soos hulle skrik. Die konings van die wêreld sal bewe, so bang is hulle dat hulle ook doodgemaak word as Ek Egipte verwoes.” So sê die Here, die God van Esegiël: “Die koning van Babilonië sal kom en jou aanval. Ek vernietig jou in daardie oorlog, want hulle is sterk en ervare soldate. Al die nasies is bang vir die Babiloniese weermag. Hulle sal jou op jou knieë bring, Egipte, want jy is ’n trotse volk. Sy soldate sal jou vernietig. Dan vernietig Ek jou skape en beeste wat langs die riviere wei. Nooit sal enige dier of mens weer daar kom nie. Ek maak jou land ’n verlate plek, ’n woestyn. Die riviere van Egipte sal dan kalm word. Hulle sal soos olie vloei, sonder dat iemand dit versteur,” sê die Here, Esegiël se God. “Daardie dag verwoes Ek jou land. Niemand sal bly leef nie. Ek maak alles en almal dood. Dan sal jy weet en erken dat Ek die Here is. Al die mense sal by jou begrafnis sing. Hulle sal sing omdat Egipte en al sy mense dood is,” sê die Here, die God van Esegiël.
ESEGIËL 32:1-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Op 3 Maart, in die twaalfde jaar wat koning Jojagin in ballingskap was, het die HERE vir my gesê: “Mensekind, huil oor die farao, die koning van Egipte. “Sê vir hom: Jy het jouself as ’n sterk, jong leeu tussen die nasies gesien, maar eintlik is jy ’n seemonster wat in jou riviere rondtrap en die water modderig maak. “Die oppermagtige HERE sê: Ek stuur baie mense om jou in my net te vang en jou uit die water te sleep. Ek los jou op droë grond. Al die voëls en wilde diere sal aan jou karkas kom vreet, hulle sal versadig word. Ek maak heuwels toe met jou vleis en die valleie met jou bene. Ek deurweek die aarde met jou bloed tot by die berge. Die klowe maak Ek vol daarvan. Wanneer Ek jou vernietig, maak Ek die hemel toe en verdonker Ek die sterre. Ek bedek die son met wolke en die maan sal nie skyn nie. Ek bring donkerte oor jou hele land. Selfs die helderste sterre sal bo jou donker word. Ek is die oppermagtige HERE, en Ek sê so. “Baie mense sal ontsteld wees wanneer hulle hoor van jou einde, selfs in verre lande waarvan jy nie eens geweet het nie. Ek maak baie mense verstom oor wat met jou gebeur. Hulle konings se hare sal regop staan oor wat jou sal tref as Ek my swaard oor hulle swaai. Die dag as Ek jou tot ’n val bring, sal elkeen vir sy lewe vrees. “Die oppermagtige HERE sê: Die swaard van die koning van Babilon is op pad na jou toe. Ek sal jou vernietig met die swaard van sterk soldate, wat almal wrede mense is. Hulle vernietig Egipte se trots; al sy mense word uitgeroei. Ek vernietig ook al jou vee wat by die water wei. Die water sal nie meer vertroebel word deur mensevoete of pote van vee nie. Ek maak die water van Egipte helder, en dit sal rustig vloei soos olyfolie, sê die oppermagtige HERE. “Wanneer Ek Egipte vernietig en alles uitwis en al sy mense doodmaak, sal julle besef Ek is die HERE. Dít is die begrafnislied wat hulle dan vir Egipte sal sing, die vroue van ander nasies wat oor Egipte en sy mense sing. So sê die oppermagtige HERE.”