Esegiël 32

32
Treurlied oor die farao
1In die twaalfde jaar, in die twaalfde maand, op die eerste dag van die maand, het die woord van die Here tot my gekom: 2“Mensekind, hef 'n treurlied aan oor die farao, die koning van Egipte, en sê vir hom,
‘Jy was soos 'n jong leeu
onder die nasies;
jy was soos 'n krokodil
in die waters.
Jy het in jou riviere ingestorm,
jy het die water troebel gemaak
met jou pote,
jy het hulle strome modderig gemaak.
3“ ‘So sê my Heer, die Here:
“Ek sal my vangnet oor jou gooi
in die byeenkoms van baie volke,
en hulle sal jou optrek in my sleepnet.
4 Ek sal jou op die grond laat lê,
jou in die oop veld weggooi.
Ek sal sorg dat al die voëls
van die hemel hulle
op jou tuismaak;
Ek sal die diere van die hele aarde
versadig maak van jou.
5 Ek sal jou vleis op die berge neersit.
Ek sal die valleie vul met jou oorskiet.
6Ek sal die aarde tot by die berge
deurdrenk met jou bloed wat vloei.
Die stroombeddings sal vol wees van jou.
7 Wanneer Ek jou uitdoof,
sal Ek die hemelruim oordek;
Ek sal sy sterre laat verdonker;
die son sal Ek met wolke bedek
en die maan sal nie sy lig laat skyn nie.
8Al die ligbronne aan die hemelruim
sal Ek bo jou laat verdonker.
Ek sal duisternis oor jou land bring.”
Dit is die uitspraak
van my Heer, die Here.
9“ ‘ “Ek sal die harte
van baie volke ontstel
wanneer Ek jou krygsgevangenes
by die nasies uitbring,
na lande wat jy nie geken het nie.
10 Ek sal baie volke
oor jou verbyster laat;
hulle konings sal onbedaarlik
sidder oor jou
wanneer Ek my swaard voor hulle swaai.
Hulle sal die hele tyd bewe,
elkeen uit vrees vir sy lewe
op die dag van jou val.
11Ja,” so sê my Heer, die Here,
“die swaard van die koning
van Babilonië gaan jou bereik.
12 Deur die swaarde van krygsmanne
laat Ek jou hordes val;
hulle is die gewelddadigstes
van nasies, hulle almal.
Hulle sal die trots van Egipte
geweld aandoen;
al sy hordes sal uitgedelg word.
13Ek sal al sy vee laat verdwyn
langs baie water.
Die voet van 'n mens sal dit
nie weer troebel maak nie;
die hoewe van vee sal dit
nie troebel maak nie.
14Dan sal Ek hulle waters helder maak,
hulle riviere soos olie laat vloei.”
Dit is die uitspraak
van my Heer, die Here.
15“ ‘ “Wanneer Ek die land Egipte
'n woesteny maak,
en die land verlate lê
van alles wat daarin was,
wanneer Ek al die inwoners daarin
neervel,
sal hulle besef dat Ek die Here is.
16Dit is 'n treurlied,
en hulle sal dit sing,
die dogters van die nasies sal dit sing,
oor Egipte en al sy hordes
sal hulle dit sing.”
Dit is die uitspraak
van my Heer, die Here.’ ”
17 In die twaalfde jaar, op die vyftiende van die maand, het die woord van die Here tot my gekom: 18“ Mensekind, weeklaag oor die hordes van Egipte en laat hulle afdaal – ook Egipte en die dogters van magtige nasies – af na die aarde se diepste dele, saam met dié wat in die put afdaal. Sê vir hulle,
19 ‘Wie oortref jy in skoonheid?
Gaan af, word neergelê by onbesnedenes!’
20“Tussen dié wat deur die swaard
gesneuwel het, sal hulle val.
'n Swaard is gegee –
sleep Egipte en al sy hordes weg!
21 Die magtigste krygshelde
sal midde-in die •doderyk
oor hom sê,
oor hom saam met sy helpers,
‘Hulle het afgedaal;
die onbesnedenes lê daar,
deurboor met die swaard.’
22“Daar is Assirië en sy hele strydmag –
rondom hom is hulle grafte,
almal gesneuweldes wat geval het
deur die swaard –
23 Assirië, wie se grafte geplaas is
op die uithoeke van die put.
Sy strydmag is rondom sy graf –
almal gesneuweldes,
geval deur die swaard,
hulle wat 'n skrikbewind gevoer het
in die land van die lewendes.
24“Daar is Elam, met al sy hordes
rondom sy graf –
almal gesneuweldes wat geval het
deur die swaard,
wat as onbesnedenes afgegaan het
na die aarde se diepste dele,
wat 'n skrikbewind gevoer het
in die land van die lewendes.
Hulle dra hulle vernedering
saam met dié wat in die put afdaal.
25Tussen gesneuweldes het hulle
'n lêplek vir Elam ingerig
by al sy hordes.
Hulle is rondom sy graf,
almal onbesnedenes,
deurboor met die swaard;
want hulle het hulle skrikbewind gevoer
in die land van die lewendes.
Hulle dra hulle vernedering
saam met dié wat in die put afdaal;
tussen gesneuweldes is hulle neergelê.
26“Daar is Meseg-Tubal en al sy hordes
rondom sy graf –
almal onbesnedenes,
is hulle deurboor met die swaard;
want hulle het 'n skrikbewind gevoer
in die land van die lewendes.
27Hulle lê nie by die krygshelde,
die gevallenes
uit die onbesnedenes nie,
hulle wat afgedaal het in die doderyk
met hulle oorlogswapens,
hulle wie se swaarde
onder hulle koppe geplaas is.
Hulle sondeskuld sit aan hulle gebeente,
want hulle was die verskrikking
van krygshelde
in die land van die lewendes.
28“En jy, farao, tussen onbesnedenes
sal jy gebreek word,
en lê by dié wat gesneuwel het
deur die swaard.
29Daar is Edom, sy konings
en al sy leiers
hulle wat ondanks hulle magtige dade
neergelê is by dié
wat gesneuwel het deur die swaard.
Ook hulle lê by die onbesnedenes,
saam met dié wat in die put afdaal.
30Daar is die stamhoofde
uit die noorde, hulle almal,
en al die Sidoniërs,
wat afgedaal het
saam met die gesneuweldes;
ondanks hulle skrikbewind
van kragtige dade,
staan hulle beskaamd.
As onbesnedenes lê hulle
by dié wat gesneuwel het
deur die swaard.
Hulle dra hulle vernedering
saam met dié wat in die put afdaal.
31 “Die farao sal hulle sien
en dan berusting vind oor al sy hordes
wat gesneuwel het deur die swaard –
die farao en sy hele leër.”
Dit is die uitspraak
van my Heer, die Here.
32“Ja, Ek het sy verskrikking toegelaat
in die land van die lewendes,
maar hy word neergelê
tussen onbesnedenes,
by dié wat gesneuwel het
deur die swaard –
die farao en al sy hordes.”
Dit is die uitspraak
van my Heer, die Here.

Tans Gekies:

Esegiël 32: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid