Esegiël 33

33
Regverdige vergelding
1 Die woord van die Here het tot my gekom: 2“Mensekind, praat met die mense van jou volk en sê vir hulle, ‘Wanneer Ek 'n swaard oor 'n land bring, en die volk van die land neem iemand uit hulle geledere en stel hom vir hulle as 'n wag aan, 3 en hy sien die swaard kom oor die land, hy blaas op die •ramshoring en waarsku die mense, 4 en iemand wat luister, hoor die geluid van die ramshoring, maar hy laat hom nie waarsku nie, en die swaard kom en neem hom weg – sy bloed sal op sy eie kop wees. 5 Die geluid van die ramshoring het hy gehoor, maar hy het hom nie laat waarsku nie; sy bloed is op hom. As hy hom laat waarsku het, sou hy sy lewe gered het.
6“ ‘Maar as die wag die swaard sien kom en hy blaas nie die ramshoring nie, en die volk word nie gewaarsku nie, en 'n swaard kom en neem 'n persoon uit hulle weg – hy is dan oor sy sondeskuld weggeneem; sy bloed sal Ek egter van die hand van die wag eis.’
7“Jy, mensekind, as 'n wag het Ek jou aangestel oor die huis van Israel. Jy sal uit my mond die woorde hoor, en dan moet jy hulle van my kant af waarsku. 8Wanneer Ek vir 'n goddelose sê, ‘Goddelose mens, jy gaan beslis sterf,’ en jy praat nie om die goddelose teen sy pad te waarsku nie – hy, die goddelose, sal dan oor sy sondeskuld sterf; sy bloed sal Ek egter van jou hand eis. 9As jy egter 'n goddelose waarsku teen sy verkeerde pad, om daarvan terug te draai, en hy draai nie terug van sy pad nie – hy sal deur sy sondeskuld sterf; maar jy, jou eie lewe het jy dan gered.
10 “Jy, mensekind, sê vir die huis van Israel, ‘Dit is wat julle sê: “Omdat ons oortredings en ons sonde op ons druk, en ons daarvan wegteer, hoe kan ons bly leef?” ’ 11Sê vir hulle, ‘So seker as wat Ek leef, is die uitspraak van my Heer, die Here: “Ek vind geen vreugde in die dood van die goddelose nie, maar wel vreugde daarin dat 'n goddelose terugkeer van sy pad, en leef. Keer terug, keer terug van julle bose paaie! Waarom moet julle sterf, huis van Israel?” ’ 12En jy, mensekind, sê vir die mense van jou volk, ‘Die geregtigheid van die regverdige sal hom nie red op die dag van sy oortreding nie, en die goddeloosheid van die goddelose – daardeur sal hy nie tot 'n val kom op die dag wanneer hy hom bekeer van sy goddeloosheid nie. Ja, die regverdige, hy sal nie deur sy geregtigheid kan bly leef op die dag wanneer hy sondig nie.’ 13Wanneer Ek vir die regverdige sê hy sal beslis bly leef, maar hy vertrou op sy geregtigheid en doen onreg – geen van sy regverdige optrede sal in herinnering geroep word nie; deur die onreg wat hy gedoen het, daardeur sal hy sterf. 14 En wanneer Ek vir die goddelose sê hy sal beslis sterf, maar hy bekeer hom van sy sonde, en hy doen wat reg en billik is – 15 'n pand gee hy, die goddelose, terug, wat geroof is, vergoed hy, volgens die vaste voorskrifte wat die lewe gee, tree hy op, en hy doen geen onreg nie – sal hy beslis bly leef; hy sal nie sterf nie. 16 Geeneen van die sondes wat hy gedoen het, sal tot sy nadeel in herinnering geroep word nie. Wat reg en billik is, het hy gedoen; hy sal beslis bly leef.
17 “Die mense van jou volk sê, ‘Die optrede van die Heer is onaanvaarbaar.’ Maar húlle optrede is onaanvaarbaar! 18Wanneer 'n regverdige van sy geregtigheid afwyk en onreg doen, sal hy daardeur sterf. 19En wanneer die goddelose afwyk van sy goddeloosheid en doen wat reg en billik is, as gevolg daarvan sal hy leef. 20Julle sê, ‘Die optrede van die Heer is onaanvaarbaar.’ Volgens elkeen se optrede sal Ek julle oordeel, huis van Israel. ”
Val van Jerusalem
21In die twaalfde jaar van ons ballingskap, in die tiende maand, op die vyfde van die maand, het iemand wat uit Jerusalem ontvlug het, by my aangekom en gesê: “Die stad is verslaan!” 22Die hand van die Here was op my, die aand voor die een wat ontvlug het, daar opgedaag het; en Hy het my mond oopgemaak toe die man die oggend by my aankom. Hy het my mond oopgemaak en ek was nie meer stom nie.
23Die woord van die Here het tot my gekom: 24“Mensekind, dié wat op daardie puinhope in die land Israel woon, sê, ‘Abraham was net een, en hy het die land in besit geneem. Ons is baie, en aan ons is die land gegee as eiendom.’ 25Daarom, sê vir hulle, ‘So sê my Heer, die Here: “Julle eet vleis met die bloed nog daarin; julle kyk op na julle afgodsbeelde, en julle vergiet bloed. Sal julle die land besit? 26Julle het op julle swaarde staatgemaak; julle het afstootlike dinge gedoen en julle het mekaar se vroue verontreinig. Sal julle die land besit?” ’ 27 So moet jy vir hulle sê, ‘So sê my Heer, die Here: “So seker as wat Ek leef, hulle wat by die puinhope is, deur die swaard sal hulle val; hy wat in die oop veld is, vir die roofdiere gee Ek hom, sodat hulle hom opvreet; hulle wat in bergvestings en grotte is, deur pessiekte sal hulle sterf. 28Ek maak die land 'n woesteny, 'n afgryslike plek; sy trotse krag sal tot 'n einde kom. Die berge van Israel sal verlate wees, sonder verbygangers. 29Hulle sal besef dat Ek die Here is wanneer Ek die land 'n woesteny maak, 'n afgryslike plek, weens al die afstootlike dade wat hulle gepleeg het.” ’
30“En wat jou betref, mensekind, die mense van jou volk praat oor jou met mekaar, langs die mure en by die ingange na die huise. Die een praat met die ander, elkeen met sy volksgenoot, en sê, ‘Kom hoor wat is die woord wat van die Here uitgaan!’ 31Dan kom hulle in skares by jou aan, en my volk gaan sit voor jou en hulle luister na jou woorde, maar hulle voer dit nie uit nie. Ja, met hulle monde doen hulle hartstogtelik mee, maar hulle harte is net agter hulle onregmatige wins aan. 32 Kyk, jy is vir hulle soos 'n hartstogtelike lied, 'n mooi klank, soos iemand wat mooi speel op snaarinstrumente: Hulle hoor jou woorde, maar om dit te doen, bestaan nie by hulle nie. 33Wanneer dit egter vervul word – en kyk, dit gaan vervul word – sal hulle besef dat daar 'n profeet in hulle midde was. ”

Tans Gekies:

Esegiël 33: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan