Op die eerste van die twaalfde maand, in die twaalfde jaar, het die woord van die Here tot my gekom: “Mens, sing 'n treurlied oor die farao, koning van Egipte. Jy moet oor hom sê:
“Jy was soos 'n leeu onder die nasies,
maar jy is tot swye gebring.
Jy was soos die groot monster in die see,
jy het jou rivierwaters laat kook,
die waters troebel gemaak met jou voete,
die riviere modderig laat word.”
So sê die Here my God:
“Tussen die baie nasies wat saamgekom het,
gooi Ek my vangnet oor jou,
en hulle trek jou op in my net.
Ek gooi jou op die grond,
Ek slinger jou die veld in,
Ek laat al die voëls op jou kom sit,
Ek laat die roofdiere hulle vol vreet aan jou.
Ek sit jou vleis op die berge neer,
Ek maak die valleie daarmee vol.
Met jou bloed wat op die berge uitgeloop het,
deurweek Ek die grond;
selfs die spruite word vol van jou bloed.
Wanneer Ek jou tot niet maak, maak Ek die hemel toe
en laat Ek die sterre se lig nie deurkom nie,
Ek maak die son toe met 'n wolk,
en die maan sal nie skyn nie.
Ek laat al die hemelliggame treur oor jou
en maak dit donker op die aarde,
sê die Here my God.
“Wanneer Ek jou ondergang bekend laat word onder nasies
in lande waarvan jy nie eens geweet het nie,
sal Ek al die volke ontsteld laat raak.
Ek laat al die volke verskrik staan
oor wat met jou gebeur;
hulle konings se hare sal rys oor wat met jou gebeur
wanneer Ek voor hulle oë my swaard swaai.
Hulle sal sidder van angs oor hulle eie lewens
dié dag wanneer jy tot 'n val kom.”
So sê die Here my God:
“Die koning van Babel se swaard is in aantog teen jou:
Ek laat jou hordes val voor die aanslag van sy soldate,
almal wrede mense;
hulle sal die trots van Egipte vernietig,
sy hele leër sal uitgeroei word.
Ek roei al sy vee uit
daar langs die baie water.
Die water sal nie meer geroer word deur die voet van 'n mens
of modderig gemaak word deur vee se pote nie.
Dan sal Ek die water weer helder laat word
en Egipte se strome so rustig laat vloei soos strome olie,”
sê die Here my God.
“Wanneer Ek Egipte 'n verlate land maak,
hom stroop van wat in hom is,
wanneer Ek al sy inwoners laat omkom,
sal hulle besef dat Ek die Here is.
Dit is die treurlied wat gesing sal word;
die vroue van ander nasies sal dit sing,
hulle sal dit sing oor Egipte en al sy hordes,”
sê die Here my God.