Esegiël 32:1-16

Esegiël 32:1-16 DB

Op die derde Maart 585 v.C., toe koning Jojagin al twaalf jaar lank ’n gevangene in ’n vreemde land was, het die Here vir my gesê: “Mens, huil oor die farao, die koning van Egipte. Sê vir hom: Jy dink jy is soos ’n sterk jong leeu. Jy is só trots as jy tussen die ander nasies is. Maar weet jy wat jy eintlik is? Jy is eintlik maar net ’n seemonster wat in ’n rivier beland het. En al wat jy regkry, is om modder op te skop. “Daarom stuur Ek baie mense om teen jou te baklei,” sê die Here, Esegiël se God. “Hulle sal jou in hulle nette injaag en jou uit die water sleep. Dan sal Ek jou daar op die strand laat lê. Jy sal daar doodgaan. Al die voëls sal op jou karkas kom sit. En die wilde diere sal aan jou kom vreet. Ek maak dat jy op die berge lê, en dat jou bene in die valleie rondlê. Ek maak die aarde nat met jou bloed, tot by die berge. Jou bloed sal die valleie vol loop. Die dag as Ek jou van die aarde afvee en jou doodmaak, sal Ek sorg dat die sterre donker word. Die wolke sal voor die son inskuif. En die maan sal donker wees. Ja, die hele wêreld sal donker word, oor die hele Egipte. Selfs die helderste sterre bokant jou sal donker wees. Want Ek, die Here, die God van Esegiël, beveel dat dit moet gebeur. “Ek sal die mense wat in jou oorbly na ver lande laat wegvat as gevangenes. Mense sal nie glo wat met jou gebeur het nie. Hulle sal wit geskrik wees as Ek jou vernietig. Ja, Ek maak dat mense oor die hele wêreld bleek sal word soos hulle skrik. Die konings van die wêreld sal bewe, so bang is hulle dat hulle ook doodgemaak word as Ek Egipte verwoes.” So sê die Here, die God van Esegiël: “Die koning van Babilonië sal kom en jou aanval. Ek vernietig jou in daardie oorlog, want hulle is sterk en ervare soldate. Al die nasies is bang vir die Babiloniese weermag. Hulle sal jou op jou knieë bring, Egipte, want jy is ’n trotse volk. Sy soldate sal jou vernietig. Dan vernietig Ek jou skape en beeste wat langs die riviere wei. Nooit sal enige dier of mens weer daar kom nie. Ek maak jou land ’n verlate plek, ’n woestyn. Die riviere van Egipte sal dan kalm word. Hulle sal soos olie vloei, sonder dat iemand dit versteur,” sê die Here, Esegiël se God. “Daardie dag verwoes Ek jou land. Niemand sal bly leef nie. Ek maak alles en almal dood. Dan sal jy weet en erken dat Ek die Here is. Al die mense sal by jou begrafnis sing. Hulle sal sing omdat Egipte en al sy mense dood is,” sê die Here, die God van Esegiël.