Eksodus 7:1-13

Eksodus 7:1-13 AFR20

Die HERE het egter vir Moses gesê: “Kyk, Ek maak jou 'n god vir die farao, en jou broer Aäron sal jou profeet wees. Jy moet alles sê wat Ek jou beveel, en jou broer Aäron moet met die farao praat, dat hy die Israeliete uit sy land laat gaan. Maar Ek sal die farao se hart verhard en my tekens en wondertekens in Egipteland vermeerder. Die farao sal nie na julle luister nie, en Ek sal my hand met geweldige oordele op Egipte lê en my leërafdelings, my volk, die Israeliete, uit Egipteland lei. Die Egiptenare sal besef dat Ek die HERE is wanneer Ek my hand oor Egipte uitstrek en die Israeliete uit hulle midde lei.” Moses en Aäron het toe so gemaak – soos die HERE hulle beveel het, het hulle gemaak. Moses was tagtig en Aäron was drie-en-tagtig jaar oud toe hulle met die farao gaan praat het. Die HERE het vir Moses en Aäron gesê: “As die farao met julle praat en sê, ‘Doen julle 'n teken!’ dan moet jy vir Aäron sê, ‘Neem jou staf en gooi dit voor die farao neer, dan sal dit 'n slang word.’ ” Moses en Aäron het toe na die farao gegaan en gemaak soos die HERE beveel het. Aäron het sy staf voor die farao en voor sy amptenare neergegooi, en dit het 'n slang geword. Die farao roep toe op sy beurt die wyse manne en towenaars, en ook hulle, die Egiptiese waarsêerpriesters, het dieselfde gedoen met hulle towerkuns. Elkeen van hulle het sy staf neergegooi en dit het slange geword, maar Aäron se staf het hulle stawwe ingesluk. Die farao se hart was egter verhard en hy het nie na hulle geluister nie, soos die HERE gesê het.

Video vir Eksodus 7:1-13