EKSODUS 7:1-13

EKSODUS 7:1-13 NLV

Maar die HERE het vir Moses gesê: “Let op, Ek sal jou soos ’n god laat wees teenoor die farao. Jou broer, Aäron, sal jou boodskapdraer wees. Hy sal jou woorde aan die farao oordra. Jy moet vir jou broer, Aäron, alles herhaal wat Ek vir jou sê. Hy moet dit dan weer vir die farao gaan sê. Hy sal eis dat die Israeliete uit Egipte trek. Ek sal egter die farao hardkoppig maak sodat Ek nog meer tekens en wonders in Egipte kan doen. Hy sal nog steeds bly weier om na julle te luister. Ek sal Egipte dan met ’n reeks rampe tref. Ek sal die stamme van Israel dan deur groot vergeldingsdade uit Egipte uitlei. Wanneer Ek vir die Egiptenaars gewys het hoe magtig Ek is en hulle gedwing het om die Israeliete tussen hulle te laat uitgaan, sal hulle weet dat Ek die HERE is.” Moses en Aäron het presies net so gemaak soos die HERE vir hulle gesê het. Toe hulle met die farao gaan praat het, was Moses 80 jaar oud en Aäron 83. Die HERE het toe vir Moses en Aäron gesê: “Die farao sal van julle verwag dat julle vir hom ’n wonderteken moet doen. Jy moet dan vir Aäron sê: ‘Gooi jou herderstok voor die farao op die grond!’ Dit sal dan in ’n slang verander.” Moses en Aäron het met die farao gaan praat. Hulle het net so gemaak soos die HERE vir hulle gesê het. Aäron het sy herderstok voor die farao en sy hofamptenare neergegooi en dit het in ’n slang verander. Die farao het toe sy wyse manne en towenaars nadergeroep. Hulle het met hulle kunsies presies dieselfde ding gedoen. Toe die manne hulle stokke neergooi, het dit ook in slange verander. Maar Aäron se slang het hulle slange ingesluk. Die farao het egter hardkoppig gebly. Hy wou nog steeds nie na hulle luister nie. Dit was presies net soos die HERE gesê het dit sou gebeur.

Video for EKSODUS 7:1-13