EKSODUS 7:1-13

EKSODUS 7:1-13 AFR83

Maar die Here antwoord hom: “Kyk, Ek gee aan jou gesag oor die farao, en jou broer Aäron sal jou woordvoerder wees. Alles wat Ek jou beveel, moet jy aan jou broer Aäron oordra, en hy moet dit vir die farao vertel sodat hy die Israeliete kan laat trek uit sy land uit. Maar Ek sal die farao hardkoppig maak, sodat Ek baie tekens en wonders in Egipte kan doen. Hy sal wel nie na julle luister nie, maar dan sal Ek Egipte my mag laat ervaar: met groot reddingsdade sal Ek die stamme van my volk Israel uit Egipte bevry. As Ek Egipte tref, sal hulle besef dat Ek die Here is, en dan sal Ek Israel tussen hulle uit laat trek.” Moses en Aäron het gedoen presies wat die Here hulle beveel het. Moses was tagtig en Aäron drie en tagtig toe hulle met die farao gaan praat het. Verder het die Here vir Moses en Aäron gesê: “As die farao vir julle sê: ‘Doen bietjie 'n wonderteken,’ moet jy vir Aäron sê: Vat jou kierie en gooi dit voor die farao neer dat dit 'n groot slang word.” Toe Moses en Aäron by die farao kom, het hulle gedoen wat die Here beveel het: Aäron het sy kierie voor die farao en sy amptenare neergegooi en dit het in 'n groot slang verander. Die farao roep toe ook sy manne bymekaar wat dié soort ding ken, sy goëlaars. Dié Egiptiese towenaars doen toe met hulle towerkunste presies dieselfde: soos elkeen sy kierie neergooi, verander dit in 'n groot slang. Maar toe sluk Aäron s'n hulle s'n in! Tog het die farao koppig gebly en nie aan hulle versoek gehoor gegee nie, net soos die Here vooraf gesê het.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid