Van Dawid.
Here, U moet sê die mense wat my beskuldig,
is self skuldig,
U moet oorlog maak teen die mense
wat oorlog maak teen my.
U moet die groot skild en die klein skild gryp
en U moet my kom help.
U moet die spies vat en die mense keer
wat my jaag en my wil vang,
U moet vir my sê dat U my sal red.
Die mense wat wil hê dat ek moet sterf,
moenie wen nie,
hulle moet verloor.
Die mense wat wil hê dat ek moet sterf,
moet ophou om my aan te val,
hulle moenie weet wat om te doen nie.
Hulle moet wees soos kaf
wat in die wind wegwaai
wanneer die Engel van die Here hulle wegjaag.
Hulle paaie moet donker en glad wees,
en die Engel van die Here moet hulle jaag.
Ek het niks gedoen nie,
maar hulle grawe vir my 'n gat om in te val,
ek het niks gedoen nie,
maar hulle wil my doodmaak.
U moet dit sleg laat gaan met hulle,
en dit moet gebeur voordat hulle besef
dat dit gebeur het.
Die vangnet wat hulle styfgetrek het,
moet hulleself vang,
hulle moet in die vangnet val en sterf.
Maar ek?
Ek sal juig oor wat die Here
gedoen het,
ek sal vrolik wees omdat Hy my gered het.
Ek sal met my hele hart sê:
Here, daar is niemand soos U nie,
U wat die mens red wat homself nie kan red nie,
die mens wat niks het nie,
U wat hom red van die mense
wat sterker is as hy en wat hom verdruk.
Die mense wat my beskuldig, is my vyande,
hulle sê ek het dinge gedoen,
maar ek weet niks daarvan nie.
Ek het goed gedoen aan hulle,
maar hulle wil dit sleg laat gaan met my,
en ek het niemand wat my kan help nie.
Maar ek?
Ek het rouklere aangetrek
en sonder kos gebly toe hulle siek was.
Ek het my kop gebuig en gebid
soos ek vir 'n broer of 'n vriend bid.
Ek het krom geloop en getreur,
ek het gerou soos ek vir my eie ma sal rou.
Maar toe dit sleg gaan met my, was hulle bly.
Hulle het om my kom staan en hulle het my gespot.
Mense wat ek nie ken nie,
het aangehou om lelike dinge vir my te sê.
Dit is vir die mense wat nie die Here dien nie,
lekker om vir my te lag,
hulle wil hê dat ek moet sterf.