YouVersion Logo
Search Icon

Ek Kán My Wêreld Verander Deur My StorieSample

Ek Kán My Wêreld Verander Deur My Storie

DAY 5 OF 6

Ons wys en deel die Here se liefde wanneer ons begin gee van dit wat ons het. Dit beteken nie altyd geld nie, maar ook jou teenwoordigheid, tyd en vermoëns. Dit is wat Jesus gedoen het. Hy het nie net die goeie nuus gepreek nie. Hy het die goeie nuus liefgekry. Hy het dit begin leef en integreer. Hy het die melaatse aangeraak. Hy het die honger mense kos gegee. Hy het die sig van die blindes herstel. Hy het aan tafel gesit met dié wat uitgeslote en uitgestoot was.

Dis nie altyd maklik om dit te doen nie. Hoe doen ons dit op ‘n manier wat nie neerhalend of hoogmoedig is nie? Hoe doen ons dit op ‘n manier wat ander bemagtig om op hul eie voete te staan? Hoe doen ons dit deur nie iemand te ontneem van eie inisiatief nie?

Jakobus, Jesus se broer, gee vir ons ‘n riglyn.

"My broers en susters, wat help dit as ’n mens sê jy het geloof, maar jou lewe wys dit nie? Só ’n geloof kan jou nie verlos nie. Sê nou jy sien ’n Christen broer of -suster wat kos en klere nodig het, en jy sê: “Ek hoop dit gaan goed met jou; sorg dat jy warm aantrek en genoeg eet,” maar jy gee nie vir daardie persoon kos of klere nie. Wat help dit dan? Dis duidelik: Om net te sê jy glo, is nie genoeg nie. Geloof wat nie dade word nie, is eintlik glad nie geloof nie – sulke geloof is dood en help niks."

Jakobus 2:14-17 NLV

Jakobus herinner ons daaraan dat ons moet begin waar ons is. Begin by die verhoudings rondom jou en laat jou geloof en verhoudings lewe deur dinge te doen.

Vir elkeen van ons gaan dit anders lyk of wees want ons is op verskillende plekke en het verskillende hulpbronne. Wanneer elkeen van ons die Here gaan vra: "Here hoe wil U hê moet ek teenwoordig wees in die nood van mense om my?" gaan Hy ons elkeen 'n ander antwoord gee. Ek dink aan ‘n haarkapper hier in my omgewing. Sy spandeer ‘n paar ure elke naweek om die haweloses se hare te gaan sny. Hulle sal nooit ooit na ‘n haarkapper kan gaan nie. Ek dink aan ‘n groep vrywillige veeartse in die voorstede wat naweke die strate ingaan om na haweloses se troeteldiere om te sien. Mense wie nooit ooit hulle diere na ‘n veearts sal kan neem nie. Ek dink aan ‘n tandarts in ons gemeenskap wat een keer ‘n week sy privaat praktyk toemaak om op straat te gaan werk en sy gawe en diens te gaan bied.

Oordink dit: Here, hoe wil U hê moet ek u lewe deel en wys? Ek kan nie al die pyn aanvat nie. Dis te veel. Maar, met wat ek het, en hoe ek kan, waar sou U wil hê dat ek die nood verlig?

Gebed: Ek vra vir genade om soos Jesus te leef.

Scripture

Day 4Day 6