Ek Kán My Wêreld Verander Deur My StorieSample
Almal van ons kan iets goeds doen. Almal van ons het sekere vermoëns in ons hand. Ons het gawes, ons het talente. Jy het iets wat jy nie net kan doen nie, jy het iets wat jy goed kan doen. God het dit vir elkeen van ons gegee — talente en geskenke wat ons goed kan doen.
Die groot vraag is egter, gaan ek dit gebruik vir my eie vooruitgang, of gaan ek vir God sê ek bring dit en ek wil hê Hy moet dit gebruik? Dit het my ‘n rukkie geneem om hierdie denkwyse aan te leer, want ek is so gekondisioneer om te dink aan wat ek nié goed kan doen nie. Ek onthou toe ek vir die eerste keer agtergekom het wat ek in my hande het.
Op skool was ek baie lief vir drama. Ek was dalk nie die beste in die hele klas nie, maar iets het in my begin leef as ek op die verhoog klim om ‘n monoloog te doen, of ‘n gedramatiseerde gedig voor te dra. En een dag het die drama onderwyser langs my kom sit en gesê: “Melissa, jy gaan mense laat hoor.” Ek het nie verstaan wat sy bedoel het nie. Ek het gedink ek gaan stories skryf en uitdink en as ek dit nie self opvoer nie, gaan iemand anders dit doen.
‘n Paar jaar later praat ek met ‘n kollega oor roeping en die kollega sê vir my: “Melissa, jy het ‘n gawe wat mense iets laat hoor wanneer jy ‘n storie vertel. Jy druk dinge op ‘n manier uit wat mense anders laat hoor.”
Dit het my jare geneem om woorde te gee aan die vermoë wat mense in my gesien het. Ek het nie besef wat ek in my hande het nie. As ek terugkyk, is ek diep geraak deur die geleenthede wat God my gegee het om die vermoë te gebruik. Dit het geweldige waarde en betekenis aan my lewe gegee in gesprekke, verhoudings en my roeping.
Watter vermoë het jy in jou hande? Wat dit ook al mag wees – dinge soos om ’n besigheid te bestuur, die rekenaar te gebruik, projekte te koördineer, konflik te hanteer, ’n kop vir syfers te hê, met geld te kan werk, ’n sportspan af te rig, mense te onthaal. Wat gaan jy daarmee doen? God sê: “Bring dit. Kom. Kom ons werk saam met wat jy het en waar jy is.”
Oordink dit: Watter vermoëns het ek in my hand?
Gebed: Ek vra vir genade om soos Jesus te leef.
Scripture
About this Plan
“As een persoon kan ek nie die wêreld verander nie, maar ek kan die wêreld van een persoon verander.” (Paul Shane Spear) Wat kan ons saam doen om die wêreld ‘n beter plek te maak?
More