YouVersion Logo
Search Icon

LydenstydSample

Lydenstyd

DAY 4 OF 43

Vir 'n Doel

Lees: Jesaja 58:3–9

SOAP: Jesaja 58:6

"Is die vas wat Ek wil hê, nie dít nie: om dié wat onregverdig gevange gehou word, te bevry, om die juk wat op mense druk, af te haal, om verdruktes vry te maak, om elke juk te breek?"

Oordenking

Die profeet Jesaja het aan die nasie van Juda voor, tydens en na hul ballingskap in Babilon diens gedoen. Die mense se harte het teenoor die dinge van God verhard. Alhoewel hulle steeds sommige van die voorskrifte en wette wat God hulle gegee het nagekom het, was hulle harte ver van Hom af.

Die mense het geweeklaag omdat God hulle nie raakgesien het wanneer hul vas nie. Hulle het gedink dat hulle dade van vas genoeg was om God se toorn van hulle af weg te keer. Hulle harte was egter ver van God af. Hul motivering om te vas was nie bekering nie, maar om hul selfsug te bevredig.

Wat vir God belangrik is, is ons harte. Alhoewel ons in staat mag wees om ons te onderwerp aan die dissipline van vas, is die belangrikste dat ons harte teenoor God eerlik moet wees wanneer ons vas. Wanneer ons kos of ander noodsaaklikhede vir onsself ontsê sodat ons die ruimte kan skep om geestelike dinge na te streef en meer tyd saam met Jesus deur te bring, is ons harte op die regte plek.

Die doel van vas is om onsself te verloën sodat ons heilig gemaak of meer soos Christus gemaak kan word. As ons vas ons trots maak, ons beter as ander laat voel, of veroorsaak dat ander struikel, mis ons die doel. God wil hê dat ons nederige, berouvolle harte sal hê wat een doel het — om Hom te behaag wanneer ons onsself verloën.

God is nie daarop uit om ons skade aan te doen nie en Hy beveel ook nie aan dat ons onsself streng of onrealisties moet verloën nie. Wat vir Hom belangrik is, is ons harte. 'n Vieruurlange vas met ons harte in die regte plek is vir God meer werd as veertig dae se vas met die verkeerde bedoelinge. Kom ons wees 'n gemeenskap wat vas met God se bedoelinge, naamlik om die juk wat op mense druk af te haal, om verdruktes vry te maak, om elke juk te breek.

Scripture

Day 3Day 5

About this Plan

Lydenstyd

Lydenstyd is 'n tydperk van leegmaak, prysgee, skoonmaak en selfs sterf. Lydenstyd is 'n tydperk waartydens ons droefheid uitspreek oor Christus se dood en die rede vir sy dood: ons sonde.

More