LydenstydSample
Vul met Vrymoedigheid
Lees: Ester 4; Psalm 138:3
SOAP: Psalm 138:3
"Toe ek na U geroep het, het U my gebed verhoor en my nuwe krag gegee."
Oordenking
Die gebeure wat in die boek Ester opgeteken is, is redelik kompleks. Ester was 'n jong meisie wat gedwing is om koningin van die hele Persiese ryk te word. Alhoewel dit vandag soos 'n sprokie klink, was baie aspekte van Ester se lewe ver daarvan. Ester moes haar identiteit vir haar man wegsteek uit vrees dat sy vermoor sou word, of ten minste verdryf sou word. God het egter haar posisie gebruik om sy volk wonderbaarlik te red.
Alhoewel Ester 'n magsposisie beklee het, moes sy haarself steeds ten volle aan die koning onderwerp. Haar voorganger is verwyder weens haar ongehoorsaamheid en Ester het waarskynlik met groot omsigtigheid opgetree sodat dieselfde lot haar nie tref nie. Toe die Joodse volk egter in gevaar was om uitgeroei te word, moes Ester ongenooid voor die koning verskyn.
Voordat Ester na die koning gegaan het om vir haar volk se redding te pleit, het sy gevas. Sy het haar oom, Mordegai, opdrag gegee om al die Jode in Susan saam te laat vas en sy en haar diensmeisies het ook gevas. ’n Hele gemeenskap het gevas en God gevra om vir Ester voor te berei en ook die koning se hart vir haar versoek voor te berei.
Deur te vas, is Ester gevul met vrymoedigheid en die vertroue dat sy doen wat God van haar gevra het.
Soos ons met vas en gebed nader aan God kom, mag ons duideliker sien waarheen God ons lei. Dalk het Hy 'n taak voor jou geplaas wat jy huiwer om te doen. Laat Hy jou met vrymoedigheid vul terwyl jy vas. Laat die Heilige Gees toe om jou hart voor te berei terwyl jy vir Hom plek maak om jou te vul. Wanneer ons God om hulp vra, sal Hy ons sekerlik die vrymoedigheid gee wat ons nodig het.
Scripture
About this Plan
Lydenstyd is 'n tydperk van leegmaak, prysgee, skoonmaak en selfs sterf. Lydenstyd is 'n tydperk waartydens ons droefheid uitspreek oor Christus se dood en die rede vir sy dood: ons sonde.
More