LydenstydSample
Vul met Wysheid
Lees: Daniël 1:3–17; Jakobus 1:5
SOAP: Jakobus 1:5
"As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan Hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt."
Oordenking
Toe Daniël en die ander prinse na Babilon toe gestuur is, is hulle in die koning se diens aangewys. Dit het beteken dat hulle koninklike kos gekry het om te eet, asook wyn in oorvloed. Omdat Daniël en sy vriende egter vir God wou eer, het hulle gevra om net met groente bedien te word.
Daniël en die ander jongmanne het van die koning se kos gevas. In plaas daarvan om hulself te vul met wat die wêreld gebied het, het hulle aan God se gebooie getrou gebly en geweier om enige kos te eet wat God as onrein beskou het. Hulle het van hierdie dinge gevas en deur dit te doen, is hulle gevul met wysheid en onderskeidingsvermoë toe hulle met hierdie nuwe lewe van diens in Babilon begin het. Hulle weiering om die koninklike kos te eet, het gewys dat hulle God hoër as mense geag het en hulle wou Hom eerder as die koning gehoorsaam.
God wil graag vir sy mense wysheid gee. Wanneer ons wysheid nodig het, is al wat ons moet doen net om te vra, en Hy beloof om dit mildelik te gee. Met sy wysheid moet ons ook gehoorsaam wees. As ons God om wysheid vra, moet ons ook gewillig wees om te volg waarheen daardie wysheid lei, selfs al is dit nie maklik nie.
Wanneer ons vas, is wysheid een van die dinge waarvoor ons ruimte maak. Soos ons van die wêreld se afleiding ontslae raak, mag ons besef dat die dinge wat voorheen wonderlik was, geen aantrekkingskrag meer vir ons het nie. God gee ons wysheid in genade sodat ons kan weet wat reg is en ons met onderskeidingsvermoë kan leef. In watter area van jou lewe het jy wysheid nodig? Vra God vandag om jou die wysheid te gee wat jy nodig het en om in gehoorsaamheid getrou te wees en te volg waarheen dit lei.
Scripture
About this Plan
Lydenstyd is 'n tydperk van leegmaak, prysgee, skoonmaak en selfs sterf. Lydenstyd is 'n tydperk waartydens ons droefheid uitspreek oor Christus se dood en die rede vir sy dood: ons sonde.
More