LydenstydSample
Vul met die Skrif
Lees: Eksodus 34:27–28; Romeine 10:17; 15:4
SOAP: Romeine 15:4
"Alles wat vooraf in die Skrif opgeteken is, is tog opgeteken om ons te leer sodat ons deur die standvastigheid en bemoediging wat die Skrif ons gee, vol hoop kan wees."
Oordenking
Watter gawe om in ‘n tyd te kan leef waar ons toegang tot God se geskrewe Woord het! Dit was nie altyd vir die volk van God beskore nie. Toe Moses die kliptafels op die berg Sinai ontvang het, was dit die eerste keer dat God sy woorde letterlik vir sy volk neergeskryf het.
Vir eeue het die volk van God net in ‘n sinagoge of tempel toegang tot sy geskrewe Woord gehad. Die mense het by die tempel en later die sinagoges, bymekaargekom om te luister hoe sy Woord hardop voorgelees word. Selfs toe die Christendom versprei het, het God se mense bymekaargekom om sy Woord te hoor. Eers ná die uitvinding van die drukpers in 1439, het die Skrif vir die massas beskikbaar geword.
God wil hê ons moet deur sy Woord gevul word. Om toegang tot die Bybel te hê, is ‘n voorreg en ‘n ontsaglike groot seën. Die feit dat die Skrif maklik toeganklik is, beteken egter nog nie dat ons onsself daarmee gevul het nie. Wanneer ons vas, verwyder ons die dinge wat ons aandag aflei en skep ons ruimte om ons in die Woord van God te verdiep.
Wat kan jy vandag doen om meer van die Woord van God in jou lewe te bring? Kan jy dit tydens aandete hardop saam met jou gesin lees? Kan jy ‘n vers memoriseer? Kan jy tussen jou daaglikse bedrywighede deur na ‘n klankopname van die Skrif luister? Kom ons vul ons lewens bewustelik met die waarheid — die Woord van God — wat geskryf is om ons te leer en te bemoedig en om ons hoop te gee terwyl ons in ons daaglikse stryd volhard.
About this Plan
Lydenstyd is 'n tydperk van leegmaak, prysgee, skoonmaak en selfs sterf. Lydenstyd is 'n tydperk waartydens ons droefheid uitspreek oor Christus se dood en die rede vir sy dood: ons sonde.
More