YouVersion Logo
Search Icon

Kom Saam, Inspirasie vir jou LewensreisSample

Kom Saam, Inspirasie vir jou Lewensreis

DAY 6 OF 7

DIE GEES SALF MY VIR DIENS

"Maar Hy wat ons saam met julle bevestig in Christus en ons gesalf het, is God, wat ons ook verseël het en die Gees as onderpand in ons harte gegee het" (2 Korintiërs 1:21-22 AFR53).

Die Bybel leer ons baie oor die olyfboom. Dit was ‘n belangrike boom in Israel en is as ‘n simbool vir die volk gebruik (Romeine 11:15-25). Olywe is ‘n belangrike handelsproduk en staan vir vrede, voorspoed en rykdom (Psalm 128:3). Dit word ook gebruik om wysheid, vrugbaarheid, krag en heiligheid uit te beeld.

Ons lees in Sagaria 4:6-7 dat die engel vir Serubbabel leer dat God se voorsiening konstant in ons lewens is net soos die olyfbome konstant olie gee aan die lampe op die oliestaander wat hy in sy visioen gesien het. Waar God se Gees is, is daar lig en kan die donker dinge nie meer in jou lewe tuis wees nie (Eksodus 27:20).

My pa het olie gebruik om sy messe te slyp. Sommige gebruik olie om hulle skurwe vel mee te voed. Olie is ook in die Bybelse tyd as ‘n medisyne gesien (Jakobus 5:14). Net so bring God se Gees vandag vir ons heling en herstel in ons lewens. Olie is ook gemeng en in ‘n parfuum aangewend (Eksodus 30:25 en Johannes 12:3). Vandag is dit die Heilige Gees in ons wat ‘n aangename geur versprei. Die mense het die skild van ‘n soldaat gesalf net voor oorlogvoering (Jesaja 21:5). Die Heilige Gees tree vandag vir ons in en beskerm ons in geestelike oorlogvoering.

Jy moet as kind van God weet dat jy gesalf is deur die Heilige Gees en daarom eenkant gesit is vir diens aan God (2 Korintiërs 1:21 en 1 Johannes 2:20). Jesus sê vir ons in 1 Petrus 1:16b: "Wees heilig, want Ek is heilig.”

Die Heilige Gees is jou salwing.

GEBED: My Hemelvader, terwyl ek my nou met olie smeer, sê ek vir U dankie dat ek kan weet dit is u Heilige Gees wat my gesond maak, beskerm, lig gee en my in die holte van u hande hou. Amen.

Day 5Day 7