YouVersion Logo
Search Icon

Kom Saam, Inspirasie vir jou LewensreisSample

Kom Saam, Inspirasie vir jou Lewensreis

DAY 2 OF 7

EK DRA OORWINNAARSKLERE

"Ek is baie bly oor die Here, ek juig oor my God, want Hy het my gered, vir my oorwinnaarsklere aangetrek. Ek is soos ‘n bruidegom met ‘n priesterkroon op, soos ‘n bruid met haar juwele aan" (Jesaja 61:10).

My ma het my geleer dat jy altyd voorsorg moet tref vir die onvoorsiene, vir ingeval dit of dat gebeur. So gebeur dit dat — of ek nou vir ‘n dag of ‘n week weggaan — my tas lyk asof ek vir ‘n maand weggaan. My skoondogter kan so lekker inpak. Sy rol haar klere in sulke netjiese, klein bondeltjies op. Dit kreukel nie en sy kan meer inpak. My dogter het weer danksy haar oorsese werkery geleer om net die allernodigste in te pak.

Vir ons reis hoef ek en jy ons gelukkig nie te bekommer oor die onvoorsiene, die hóé of die hoeveelheid nie. Omdat ons vir Jesus Christus aangeneem het en sy pad volg, het Hy reeds vir ons oorwinnaarsklere gegee om aan te trek! Al wat ons moet doen, is om ons trouklere aan te trek.

Die wêreld (die duiwel) sê graag vir ons ons is te jonk, oud, lelik, nikswerd of nie ryk, slim, goed of geleerd genoeg nie. In plaas van op ‘n hopie gaan lê en klere van selfbejammering en minderwaardigheid aantrek, moet ons eerder regop staan sodat ons Bruidegom ons priesterkroon op ons kop kan sit en vir ons juwele kan aansit.

Hierdie koninklike klere wys dat Jesus ons verlos het en deur sy bloed regverdig gemaak het.

Ek sien “so gee die Here my God die oorwinning en laat Hy al die nasies luister na die loflied tot sy eer” (Jesaja 61:11).

GEBED: Dankie, my Hemelvader, dat U my daarop wys dat dit nie my aardse klere is wat vir U belangrik is nie. Amen.

Day 1Day 3