Dagstukkies vir besige vroueSample
Skokbrekers - Chanté Hinds-Möller
Nooit gedink ek sal my ooit met gesag oor skokbrekers kan uitlaat nie. Maar dit is hoe die lewe maak as jy dink jy het ander planne. Die een dag trippel jy nog met jou spykerhakkies in die blink gange van ’n inkopiesentrum rond; die volgende oomblik klou jy verbete vas aan die stuurwiel van ’n gehawende plaasbakkie en sê dankie vir skokbrekers.
Omdat ek my lyf nou boervrou hou, het ek die ou geel plaasbakkie vir my toegeëien. Hy het my geleer hoe om in die modder te ry sonder om vas te sit; hoe om verby ’n trop skaap te ry sonder om hulle op loop te jaag; hoe om die duisende erdvarkgate wat oornag verskyn behendig mis te ry.
Deur dit alles het ek die waarde van goeie skokbrekers besef. Nie net in die veld nie, maar ook in die lewe. Want skielik is daar mos ’n gat in die pad – daardie ding wat jy nie sien kom het nie – en goeie skokbrekers maak dat jy sonder te veel ongemak daardeur kan kom.
Hou jou skokbrekers daarom goed in stand sodat jy met geesdrif jou lewenslied kan sing. Ten spyte van ’n gat in die pad.
Hemelse Vader, keer op keer tref ek daardie gat in die pad. Laat u Gees my gebroke gees olie sodat ek weer met vreugde my koers kan inslaan. Amen.
Scripture
About this Plan
Bekende vroue soos Christelle Webb-Joubert, Benescke Janse van Rensburg, Christine Ferreira, Helenè Bester, Chanté Hinds-Moller, Lizette Murray en Bertha le Roux-Wahl bring boodskappe van hoop vir ma’s. Hulle herinner jou dat jy nie alleen is nie, dat jy nie skaam hoef te voel wanneer die lewe jou oorweldig nie, en dat jy altyd maar kan vashou aan dié wete: Jou hemelse Vader ken jou, Hy weet wat jy nodig het.
More