Dagstukkies vir besige vroueSample
Gee 'n drukkie - Christine Ferreira
In ’n besige week en ’n half, vlieg ek drie keer Kaap toe. Die heen-en-weer- vlieëry is uitputtend, maar ten minste kry ek ’n bonus – die kans om my jongste, wat op Stellenbosch studeer, te sien.
Ons kuier die Saterdag lekker saam by ’n vriendin se pragtige woonstel in St James. Christoff is gedaan toe hy vroeg die Saterdagaand by die woonstel opdaag. Hy kom sit sommer dadelik styf teen my op die bank en lê met sy kop op my skouer. Só sit ons tot met slapenstyd en gesels.
’n Paar dae later sien ons mekaar weer by die gastehuis waar ek bly. Ons kuier rustig oor ontbyt terwyl dit buite saggies reën en ’n kaggelvuur in die eetvertrek brand. Gans te gou is die kuiertyd verby en ons spat in verskeie rigtings.
Met my laaste besoek aan die Kaap bly ek in Franschhoek en ons sukkel om by mekaar uit te kom. “Wag, Ma, ek spring gou in die kar en kom sommer oor vir ’n drukkie!” sê hy toe ons agterkom ons planne om mekaar laatmiddag te sien gaan nie uitwerk nie.
Moenie een geleentheid laat verbygaan om jou kind ’n drukkie te gee nie. Te gou is hulle groot en ver van die huis af.
Dankie, Here, vir die liefde van ’n kind. Vir saamweestye, vir kuier en gesels te midde van druk programme en die elkedagse eise wat die lewe aan ons stel. Amen.
Scripture
About this Plan
Bekende vroue soos Christelle Webb-Joubert, Benescke Janse van Rensburg, Christine Ferreira, Helenè Bester, Chanté Hinds-Moller, Lizette Murray en Bertha le Roux-Wahl bring boodskappe van hoop vir ma’s. Hulle herinner jou dat jy nie alleen is nie, dat jy nie skaam hoef te voel wanneer die lewe jou oorweldig nie, en dat jy altyd maar kan vashou aan dié wete: Jou hemelse Vader ken jou, Hy weet wat jy nodig het.
More