YouVersion Logo
Search Icon

Lydenstyd Reis - Water in Die WoestynSample

Lydenstyd Reis - Water in Die Woestyn

DAY 22 OF 40

OM STIL TE BLY

“As iemand nooit struikel in wat hy sê nie, is hy volmaak, by magte om ook sy hele liggaam in toom te hou. Vir perde sit ons ’n stang in die bek, en dan gehoorsaam hulle ons en het ons hulle hele liggaam onder beheer.” - Jakobus 3:2-3

”Eenkeer, nadat Abba Macarius die seënwense oor die broeders uitgespreek het, in die kerk te Scete, het hy vir hulle gesê: 'Broers, vlieg.' Een van die oudstes vra toe: 'Hoe kan ons verder as dit vlieg, aangesien ons hier in die woestyn is?' Macarius plaas toe sy vinger op sy mond en sê: 'Vlieg weg hiervandaan.' Hy gaan toe in sy sel en maak die deur toe.” – Woestynstorie

Om stil te raak beteken ook om nie te praat nie. Abba Macarius sê ons moet van ons spraak vlug. Baie van ons is kompulsief wanneer dit by praat kom en leef onbewus van die vloed woorde wat soos ’n waterval uit ons mond stroom. Ons moet bewus word van dit wat uit ons mond kom, ons moet ons spraak beperk. Jakobus sê dat die beheersing van ons spraak ons kan help om ook ander areas van ons lewe in toom te hou. Jakobus sê ook dat ons vinniger moet wees om te hoor en stadig om te praat. (Jakobus 1:19) Sy redenasie is dat woorde jou kan laat sondig en as jy ophou praat is dit ’n manier om nie sonde te doen nie: “As iemand nooit struikel in wat hy sê nie, is hy volmaak.” (Jakobus 3:2) Arsenius het gesê dat hy dikwels belydenis moes doen oor iets wat hy gesê het, maar nog nooit iets waaroor hy stilgebly het nie. Thomas à Kempis beaam dit wanneer hy skryf: “Dit is makliker om geheel en al stil te bly as om met tye te praat.” Stilte is die manier om die stang in die perd se bek te sit. (Jakobus 3:3). Die beoefening van stilte is gesien as ’n manier waarop selfbeheersing bevorder kan word. Stilte is ’n konkrete, praktiese en baie vrugbare dissipline om ons voor te berei, om te help om selfbeheersing toe te pas, sodat ons kan leer luister en waarneem en nie net reaktief reageer nie. Wanneer ons stilte as ’n dissipline beoefen, kan ons sê dat ons teenwoordigheid van ’n ander, dieper plek af kom. Vader Pambo het gesê as iemand nie gestig en bemoedig kan word deur sy stilte nie, sal hy dit ook nie kan regkry deur sy spraak nie. As ons woorde enige vrug kan dra sal dit vanuit ’n plek van stilte moet kom.

“Meer woorde bring nie minder sonde nie.” – Spreuke 10:19 (NLV)

“As jy stilbly sal jy vrede hê waar jy ook al woon.” – Abba Poemen

GEDAGTE VIR DIE DAG

Wees vinnig om te luister, wees stadig om te praat. (Jakobus 1:19)

VIR NADENKE

Dink aan die gesprekke wat jy vandag gehad het. Het jy meer geluister as gepraat?

Vind jy dit moeilik om stil te bly? Hoe sal dit wees om môre meer aandag aan jou gesprekke te gee en te luister sonder om ’n antwoord voor te berei?  Is daar iets wat jy vandag gesê het waaroor jy spyt is?  Bring dit voor God en vra vir die genade om stil te bly wanneer jy moet.

Day 21Day 23

About this Plan

Lydenstyd Reis - Water in Die Woestyn

Hierdie leesplan sal jou op 'n geestelike reis begelei tydens die 40 dae van die Lydenstyd. Ons volg Jesus die woestyn in. Die woestyn is ’n plek van voorbereiding, beproewing, afsondering, stilte, uitdaging, herskepping, ontdekking en ontmoeting (met jouself en met God). Ons reis oor hierdie 40-dae Lydenstyd met die wysheid van die vroeë Christene wat welbekend was met die woestynlewe.

More