Die Belangrikheid Van GebedMuestra
Welkom by ons studie, Die Belangrikheid van Gebed
Gebed kom dwarsdeur die Woord van God voor – van Adam en Eva af tot by die apostel Johannes. Die meeste van ons besef gebed is belangrik, en tog sukkel ons om dit ‘n prioriteit in ons alledaagse lewens te maak.
Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word – Hebreërs 4:16.
In gebed word ons uitgenooi om gemeenskap met God te ervaar terwyl ons tot Hom nader, en ons groot behoefte aan sy teenwoordigheid en krag in ons lewens erken.
Selfs al weet ons dit, sukkel baie van ons tog om hierdie lewensbelangrike kans te benut. In ons onkunde tree ons dikwels op asof ons sterk genoeg is om versoeking te weerstaan, dapper genoeg om die aanvalle van die Satan af te weer, vaardig genoeg om die weë van die wêreld te navigeer en kundig genoeg om die Woord van God alleen te interpreteer. Dit was nooit God se bedoeling dat ons so moet lewe nie.
S.O.A.P.
Hier by Love God Greatly Afrikaans, gebruik ons die SOAP-metode vir ons Bybelstudies. Die SOAP-metode maak dit vir jou moontlik om dieper te delf in die verse en meer te sien as wanneer jy net eenvoudig die verse lees en dan aangaan. Ons wil jou aanmoedig om jou tyd te gebruik om die daaglikse verse te S.O.A.P. en self te sien hoeveel meer jy uit jou daaglikse stiltetyd sal kry.
Wat beteken S.O.A.P.?
S – Die S staan vir Scripture – jy skryf die teksverse neer ... jy sal verbaas wees om te sien wat God aan jou in sy Woord sal openbaar deur net tyd te maak om die verse neer te skryf!
O – Die O staan vir Observation – wat sien jy in die verse wat jy lees? Wie is die gehoor? Is daar ‘n herhaling van woorde? Watter woorde staan vir jou uit?
A – Die A staan vir Application – Dit is wanneer die Woord van God persoonlik word. Wat sê God vandag vir my? Hoe kan ek dít wat ek nou net gelees het, in my eie lewe toepas? Is daar iets wat ek moet doen? Watter veranderinge moet ek maak?
P – Die P staan vir Prayer. Bid die Woord van God terug na Hom toe. As Hy gedurende hierdie tyd iets aan jou in sy Woord geopenbaar het, bid daaroor. Bely as Hy vir jou op sonde in jou lewe gewys het.
Inleiding:
Gebed is die belangrikste onderwerp in praktiese godsdiens. Alle ander onderwerpe is ondergeskik daaraan. Om die Bybel te lees, die Sabbat te onderhou, na preke te luister, dienste by te woon, aan die tafel van die Here te sit - dit is alles baie belangrike sake, maar nie een van hulle is so belangrik soos persoonlike gebed nie” (J. C. Ryle, 1816–1900).
Ek gaan heeltemal eerlik wees. Vir my is gebed die maklikste en terselfdertyd die moeilikste van al die geestelike dissiplines. Dit is maklik omdat dit nie enige spesiale talente van my vereis nie, geen gesofistikeerde woordeskat of dat ek na 'n spesifieke plek hoef te gaan nie. En tog is dit moeilik, omdat my aandag maklik afgelei word, getrouheid ontbreek en ek dikwels onkundig is oor die gevare van 'n lewe sonder gebed. Meermale as wat ek graag wil erken, vergeet ek dat ek 'n teëstander het wat my dood beplan. God het my toegerus met die wapens wat ek nodig het om terug te veg, maar gebruik ek dit?
Gebed is 'n voorreg wat ek as vanselfsprekend aanvaar. Dit is 'n geskenk waarvan ek die waarde soms onderskat. En tog, in tye wanneer ek baie desperaat is, waarmee is ek besig? Om te bid, amper asof dit instinktief gebeur.
Van Adam en Eva tot die apostel Johannes, word gebed dwarsdeur die Woord van God gevind. Die meeste van ons weet dat gebed ‘n gesprek met God is, maar dis soveel meer as net dit. Dit is 'n geleentheid waar ek gemeenskap met God kan beleef, wat my in staat stel om te eniger tyd tot Hom te nader.
Een van die redes waarom so baie van ons traag is om te bid, is omdat ons nie glo dat gebed belangrik is nie. Ons dink dat ons deur ons dag kan kom sonder die hulp en leiding van God. Ons tree op asof ons sterk genoeg is om versoeking te weerstaan, dapper genoeg om die aanvalle van die Satan te beveg, vaardig genoeg om die weë van die wêreld te navigeer en kundig genoeg om die Woord van God op ons eie te interpreteer. Ons glo dat ons selfonderhoudend is.
As ons die lewe van Jesus bestudeer, kan ons nie anders as om op te let hoeveel keer Hy homself van mense onttrek het om tyd saam met sy Vader in gebed deur te bring nie (Matteus 14:23; Markus 1:35; Lukas 6:12; 22:32). Die Seun van God wat storms laat bedaar het, demone uitgedryf het en siekte oorwin het, het die belangrikheid van gebed geken en dit deel van sy daaglikse lewe gemaak. Ons moet sy voorbeeld volg.
Gebed is belangrik omdat dit ons oë op Jesus fokus, ons krag gee, ons nader aan God bring, troos bring, vrede gee en ons liefde vir God aan die brand hou. Gebed is 'n toevlugsoord in tye van hartseer en pyn, 'n plek van genesing vir die gehawendes en dié wat seer het. Dit is 'n tyd om duidelikheid en wysheid te soek; dit is 'n tyd van lofprysing en aanbidding.
Terwyl ons die volgende paar weke die belangrikheid van gebed bestudeer, hoop ek dat God ons oë sal oopmaak vir die wonder en krag wat ons het wanneer ons sy wonderbaarlike genadetroon nader.
Escrituras
Acerca de este Plan
As jy graag nader aan jou Verlosser wil kom deur gebed ‘n prioriteit in jou lewe te maak, dan is Die Belangrikheid van Gebed vir jou. Ons gaan tyd deurbring in God se Woord, antwoorde kry op vrae oor hoe ons moet bid, hoe om gebed ‘n prioriteit te maak en hoe God gebed verhoor. Mag God deur hierdie studie ons oë oopmaak vir die wonder en voorreg van gebed.
More