Lydenstyd Reis - Water in Die WoestynMuestra
EENHEID
“. . . ontdek die skoonheid in elkeen.” – Romeine 12:17 (The Message)
“Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” – Matteus 22:39
'n Monnik is 'n man wat homself as 'n gelyke met ander beskou, omdat hy homself gereeld in elke mens sien. As jy jou broeder gesien het, het jy Christus gesien.– Evagrius
Evagrius se idee van ’n monnik is 'n persoon wat homself toewy aan gebed. In die eerste plek sê hy die vrug van só ’n toegewyde lewe is dat ’n mens se oë oopgaan om God in elke mens raak te sien. Dus ontdek ons God as die essensie van alles wat geskape is: die skepping en ook in elke mens. Die woestynvaders het verwys na die sakrament van jou broeder en jou suster. Dit is die idee dat wanneer ek my in gebed aan God toewy, en daardie heiligdom betree, ek getransformeer word en met ander oë na mense kyk met wie ek te doen kry. Martin Buber se vertaling van Matteus 22:39 “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself”, is: “Jy moet jou naaste liefhê soos 'n mens wat soos jyself is.”
In die tweede plek beteken dit vir Evagrius dat ek myself vind in al die mense om my en met wie ek te doen kry. Ek vind uit dat ek nie net aan God verbind is en een met Hom is nie, maar dat ek ook een is en verbind is met sy skepping en met alle ander mense. In my naaste ontmoet ek ook myself. Henri Nouwen het gesê dat dit wat die intiemste is ook die algemeenste is (“wat die persoonlikste is, is die mees universele”). Ek ontdek dat dit wat in my is, ook in ander is. ’n Lewe van gebed en ’n lewe van stilte lei ons in ’n diepe verbondenheid met God en ook in ’n nuwe verbintenis met ander.
GEDAGTE VIR DIE DAG
“As ek my broeder moet liefhê, moet ek op 'n manier diep in die misterie van God se liefde vir hom ingaan. Ek moet nie net deur menslike simpatie gedryf word nie, maar deur daardie goddelike simpatie wat aan ons openbaar word in Jesus ...” – Thomas Merton
VIR NADENKE
Dink terug aan jou interaksies met mense vandag. Het jy dalk iets van God se beeld, of van sy liefde of aanvaarding vir jou in en deur iemand anders beleef? Hoe het jy hierop gereageer? Watter emosies het dit in jou wakker gemaak? Kan jy dalk iets hieruit leer van hoe God oor jou voel?
Escrituras
Acerca de este Plan
Hierdie leesplan sal jou op 'n geestelike reis begelei tydens die 40 dae van die Lydenstyd. Ons volg Jesus die woestyn in. Die woestyn is ’n plek van voorbereiding, beproewing, afsondering, stilte, uitdaging, herskepping, ontdekking en ontmoeting (met jouself en met God). Ons reis oor hierdie 40-dae Lydenstyd met die wysheid van die vroeë Christene wat welbekend was met die woestynlewe.
More