Gesprekke Met GodVoorbeeld

Soms is die volgende stap in gebed om iets te laat gaan. Hierdie altaar van die siel is 'n spesifieke tyd en plek waar ons beheer oor iets laat gaan of ons wil aan God onderwerp en toelaat dat Hy die uitkoms beheer. In hierdie oomblikke plaas ons wie ons is en dié vir wie ons liefhet, voor Hom neer en tree terug — sonder om te weet wat volgende gaan gebeur. Hierdie oomblik kan vreeslik gewaagd voel.
Om te laat gaan, is 'n gebed wat op 'n liefdesverhouding met Jesus gebaseer is. Omdat Hy weet dat ons pyn kan ervaar as ons onsself en die mense vir wie ons liefhet aan sy wil onderwerp — Hy het dit persoonlik ervaar — dra Hy ons daardeur. Die oomblik wanneer jy oorgee, gee die Heilige Gees vir jou oorvloedige genade en sy teenwoordigheid word 'n seëngebed. Prys sy Naam! As ons laat gaan, val ons in sy arms van liefde.
Dink 'n oomblik saam met my aan die Bybelse, geskiedkundige en hedendaagse helde wat die grootste invloed op ons lewens gehad het. Een van die merkwaardige ooreenkomste van die mense wat ons bewonder, is hulle gebedslewe. In daardie oomblik kom hulle wil tot stilstand voor God se beter doel vir hulle lewens, en hulle kies om hulle te onderwerp — selfs al verg dit opoffering en lyding. Dis onvermydelik dat hulle oorgawe ook hulle beste tyd word, en die gebeure wat volg het 'n blywende invloed. Op dieselfde manier word ons deel van dié ongelooflike verhaal, as ons ons eie wil neerlê en die wil en roeping van God aanvaar. Dit word 'n koninkryksavontuur wat ons verder neem as wat ons self sou kon.
Wat gebeur egter as jy die waarde van oorgawe in gebed besef, maar te bang is om dit nou al te bid? Die tweede beste gebed is: "Here, ek is gewillig om gewillig gemaak te word." Hierdie gesindheid gee ons die krag om te doen wat ons moet doen. Nie in jou eie krag nie, want dit is God wat al die tyd effektief in jou aan die werk is. "Hy is met julle besig as julle voel julle wil iets doen wat Hom gelukkig sal maak, en as julle dit uiteindelik doen, is Hy steeds by julle. Ja, dit is Hy wat so in julle werk" (Filippense 2:13 DB). Ons kan God in elke fase vertrou. Niks is vir Hom te moeilik nie en alles wat vir ons dierbaar is, is veilig in sy hande.
Aangaande hierdie leesplan

Gesprekke Met God laat jou toe om dieper te delf en praktiese maniere te ontdek om God se stem te hoor, sodat jy 'n intieme gebedslewe met Hom kan hê. God wil hê dat ons die gereelde gesprekke met Hom lewenslank sal geniet — 'n gesprek wat 'n verskil sal maak in ons rigting, verhoudings en doel op aarde. Hierdie leesplan is vol openhartige, persoonlike stories oor die hart van God wat na ons uitreik. Hy het ons lief!
More