Vry Van Myself: Hoekom Die Lewe Beter Is As Alles Nie Om Jou Draai NieVoorbeeld
![Free Of Me: Why Life Is Better When It’s Not All About You](/_next/image?url=https%3A%2F%2Fimageproxy.youversionapi.com%2Fhttps%3A%2F%2Fs3.amazonaws.com%2Fyvplans%2F8830%2F1280x720.jpg&w=3840&q=75)
Los die Selfhelp-God Uit
As jy eensaam voel, misgekyk word of onseker is, mag jy dalk in die versoeking kom om die selfhelp-god te aanbid, wat in baie boeke voorkom en wat sprekers voorstaan. Hierdie god bestaan om jou beter te laat voel oor jouself. Hierdie god kan jou spesiaal laat voel. Hierdie benadering teenoor God, is 'n weerspieëling van hoe die Kerk die taal van ons kultuur aangeneem het.
Wat interessant is oor die Christelike selfhelp-benadering, is dat dit merkwaardig van God s'n verskil. Dink 'n bietjie na oor die storie van Moses, toe God hom beveel het om met die Farao te gaan praat. Moses het sy swakhede as verskonings gebruik. Hy het nie in staat gevoel om met die Farao te praat of die Israeliete uit Egipte uit te lei nie, want hy het vasgekyk teen die dinge wat hom kon diskwalifiseer. Hoe het God daarop gereageer? Hy het nie vir Moses 'n selfhelppraatjie gegee nie. Hy het nie erkenning aan Moses se leierskap of sy talente en gawes gegee nie. Hy het nie vir hom 'n drukkie gegee, toegejuig en met opbouende woorde aangemoedig nie.
God het nie een van hierdie dinge gedoen nie. In plaas daarvan het Hy eerder die onderwerp verander. God het sy Goddelike krag, leierskap en wese bevestig, want die uiteinde het nie van Moses afgehang nie. Die verhaal was nie oor Moses se kragte nie. Moses moes nooit die held wees nie. Net God kon die Israeliete uit Egipte bevry; dus het Hy Moses se fokus teruggeskuif na Hom toe.
God het op dieselfde manier gereageer toe Hy Jeremia, 'n profeet wat oor sy jeug bekommerd was, aangestel het. Hy het geredeneer: "... ek kan nie goed praat nie, ek is nog te jonk” (Jeremia 1:6). God het egter nie oor hom gekloek nie. Hy het Jeremia eerder erkenning gegee vir wie Hý was: "Moenie vir hulle bang wees nie, want Ek is by jou, Ek sal jou red ..." (Jeremia 1:8). Weereens het God sy dienskneg weggelei van sy eie tekortkominge af na die onbeperkte God toe.
God gee om vir ons onsekerhede, maar die verskil tussen 'n selfhelp-god en die ware, lewende God, is fokus. Die enigste ware God reageer op ons onsekerhede met gerusstellings oor Homself. Deur dit te doen, maak Hy ons los van die oorsprong van ons verlamming en verskuif ons aandag van "kan nie" na die Een wat kan.
Dink na oor 'n moeilike situasie wat nou in jou lewe teenwoordig is. Hoe sal jou benadering verander as jy besef dat die oplossing in God se krag en nie in jou eie krag lê nie?
Om meer te leer oor Free of Me besoek http://sheworships.com/free-of-me-book.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
![Free Of Me: Why Life Is Better When It’s Not All About You](/_next/image?url=https%3A%2F%2Fimageproxy.youversionapi.com%2Fhttps%3A%2F%2Fs3.amazonaws.com%2Fyvplans%2F8830%2F1280x720.jpg&w=3840&q=75)
Ek het iets verrassends ontdek: om vir myself te lewe is baie werk. Dit mag dalk bevrydend klink om gefokus te bly om die beste "ek" te wees, maar dit is eintlik 'n baie swaar las om te dra — God het ons eerder geroep om ons vreugde daarin te vind om allereers op Hom te fokus. Ek hoop die kort oordenkings uit my boek "Free of Me", vind aanklank by jou begeerte om jou los te maak van jouself en aan God vas te hou. Daar vind ons ware vryheid!
More
Ons wil graag dankie sê vir Baker Uitgewers wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting, besoek: https://bakerbookhouse.com/products/41181