My Allerbeste vir Sy HoogsteVoorbeeld
Ons Bedenkinge Oor Jesus
Het jy al ooit vir jouself gesê: "Ek is beïndruk met die wonderlike waarhede van God se Woord, maar Hy kan nie regtig verwag dat ek daaraan kan voldoen en dat ek al daardie besonderhede in my lewe kan toepas nie! "Wanneer dit kom by die konfrontering van Jesus Christus op grond van Sy eienskappe en vermoëns, weerspieël ons houdings godsdienstige meerderwaardigheid. Ons dink dat Sy ideale verhewe is en hulle beïndruk ons, maar ons glo dat Hy nie in kontak met die werklikheid is nie—dit wat Hy sê, kan eintlik nie gedoen word nie. Elkeen van ons dink dit oor Jesus op een of ander gebied in ons lewens. Hierdie twyfel of bedenkinge oor Jesus begin as ons vrae vra wat ons fokus van God af skuif. Terwyl ons praat oor ons ervaring met Hom, vra ander vir ons: "Waar gaan jy genoeg geld kry om van te lewe? Hoe sal jy lewe en wie sal vir jou sorg?" Of, ons bedenkinge begin binne onsself wanneer ons vir Jesus sê dat ons omstandighede net 'n bietjie te moeilik vir Hom is. Ons sê: "Dit is maklik om te sê: 'Vertrou op die Here,' maar 'n mens moet lewe; en bowendien het Jesus geen manier om vir ons hierdie dinge te kan gee nie." En pasop om skynheilig te wees deur te sê: "O, ek het geen bedenkinge oor Jesus nie, net oor myself." As ons eerlik is sal ons erken dat ons nooit twyfel of bedenkinge oor onsself het nie, omdat ons presies weet waartoe ons in staat is of nie. Maar ons het bedenkinge oor Jesus. En ons trots is ook gekrenk as ons dink dat Hy iets kan doen wat ons nie kan doen nie.
My bedenkinge ontstaan uit die feit dat ek binne-in myself soek om te verstaan hoe Hy sal doen wat Hy sê. My twyfel ontstaan uit die diepte van my eie minderwaardigheid. As ek hierdie bedenkinge in myself vind, moet ek dit in die lig bring en openlik verklaar—"Here, ek het bedenkinge oor U. Ek het nie in U vermoëns geglo nie, maar net my eie. En ek het nie in U almag geglo nie, want my beperkte begrip verhinder dit. "
O Here, met watter oorvloedige verligting kom ek na U toe! Ek het U oneindig nodig, en is verlig en verheug om alles wat ek nodig het in U te kry.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Vir meer as tagtig jaar is Oswald Chambers se "My Utmost for His Highest" een van die mees gelese boeke in die Christelike wêreld. Nou is ons verheug om hierdie spesiale uitgawe van dertig oordenkings uit "My Utmost for His Highest" vry te stel. Dis ontwerp om 'n nuwe geslag aan die tydlose waarhede uit die Bybel bekend te stel. Hierdie versameling bevat ook Oswald Chambers se persoonlike gebede.
More